Photos

Die Geheim van Geluk

Stel die Here op die proef dan sal julle sien hoe goed Hy is.

Iemand wat by Hom skuil, sal bly wees.

Psalm 34:9

Tuesday, October 12, 2010

Is jy 'n Maria Magdalena?

Een van die vroue wat in my lewe en genesing 'n baie groot rol gespeel het was Maria Magdalena in die Bybel.

Ons dink baie keer dat die vroue in die bybel se tyd dit dalk makliker gehad het as die vroue van vandag se tyd. Ek glo beslis nie so nie. In daardie tyd was dinge baie keer erger as wat ons vandag deurgaan.

Lees gerus Maria Magdalena se verhaal toe sy voor Jesus gebring is in Johannes 8.

Sy was 'n vrou wat "vuil" gevoel het en hier bring hierdie mense haar in die "heiligste plek" voor die "Heiligste Persoon" wat op aarde was. Ek kan myself net indink hoe sy moes gevoel het toe sy so voor Jesus moes staan. Skaam, bang, verneder, kwaad vir die mense wat dit aan haar gedoen het?


Ek dink aan die begin het ek ook so gevoel toe ek voor Jesus kom staan het en my hart voor Hom uitgestort het.

Ek was bang dat God my sal verstoot. Hy wil nie so "vuil" mens in Sy koningkryk hê nie. Soos Maria Magdalena het ek ook baie foute in my lewe gemaak. Ek het gewag vir die oordeel van God se kant af om vir my te sê dat ek nie goed genoeg is om Sy kind genoem te word nie. Skaam was beslis een van die dinge wat ek gevoel het.

Vernederend was dit beslis. Ek het myself ontbloot voor God en al was dit wat met my gebeur het nie my skuld nie, het ek tog so skuldig gevoel daaroor.

En wat doen Jesus toe hulle haar voor Sy voete gooi? Hy luister na alles wat hulle haar van aankla en Hy begin hulle eie sondes in die sand skryf. So ook sê Hy aan hulle dat as een van hulle onskuldig is kan daardie persoon die eerste klip gooi.

So ook maak Jesus vandag met ons, Hy skryf ons sondes in die sand, nie op klip waar dit vir altyd bly nie, maar in die sand waar die wind dit weg kan waai as ons dit voor Hom belei. En dan is dit vergewe en vergeet vir altyd.

So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
Psalm 103:12

Soos Maria se naam ook beteken "Bitter", het ek ook gevoel. Ek was so bitter oor alles wat in my lewe verkeerd geloop het.

Tog gee Jesus vir my 'n uitkoms en Hy is lief vir my, verwyder al die pyn en lyding en gee my Sy genade en maak my 'n nuwe mens. Net soos Hy met Maria Magdalena gemaak het. Die Jesus van daardie tyd is dieselfde Jesus van vandag. Hy het nie verander nie.

Jesus gee lewe. Lasarus opgewek het uit die dood en lewe gegee het, so kan Hy ook aan ons 'n nuwe lewe gee.

Het jy al gewonder as jy voor die besluit moet staan om een ding te kies wat jy in jou lewe nodig sal hê.  Wat sal dit wees?

Vir my is daardie besluit beslis Jesus, want met Hom aan my kant sal ek alles anders kry wat ek nodig het.
Geluk, onvoorwaardelike liefde, vooruitsigte vir die toekoms en nog baie meer.

Maak jouself leeg sodat God jou kan volmaak met Sy wysheid en liefde.

As jy vir iemand lief wil wees moet jy daardie persoon leer ken. Dit is presies wat Maria Magdalena met Jesus deur gegaan het.

Om waarlik vir Jesus te ken moet ons leer deur te bid, te luister na wat Hy vir my wil sê deur my bybel te lees. Tyd saam met God te spandeer. As ons nie daagliks tyd maak vir God nie sal die wêreld daardie plek gou genoeg inneem. Dit is belangrik om jou dag met God te begin en ook so af te sluit. Dit is soos die manna wat God se mense in die woestyn gekry het. Hulle het dit in die oggend ontvang wanneer dit vars was. So moet God se woord ons manna vir die dag wees.

Watter stem hoor jy in jou lewe? God se stem of die wêreld se stem?

Hoe dink jy het Jesus geweet wat Sy Vader van Hom verwag? Self Jesus het gesê dit staan geskrywe. Dus kan ons daaruit leer dat met Sy tyd op aarde Hy ook die bybel bestudeer het.

Ons moet soos Maria Magdalena wees en nie soos 'n Judas nie.  Maria Magdalena het Jesus se voete gesoen en Hom gedien. Judas het Jesus se wang gesoen en Hom verraai.

Jesus het Maria Magdalena gebruik om vir Hom te werk en so kan Jesus ook een en elk  van ons gebruik.

Ek wil beslis vir die Here werk met alles in my hart.

God het Job se naam in die Hemel genoem toe Hy vir die duiwel gevra het: Het jy vir Job gesien? So ken God ook elke een van ons name en Hy wil ook vir ons 'n beter lewe gee. Jy is nie net 'n nommer in God se boekie nie.

By die kruis het die duiwel sy gulsigheid na mag gewys, maar Jesus het by die kruis Sy krag van Liefde vir ons bewys.

As ons na Maria Magdalena se lewe kyk kan ons dit baie keer die vergelyking sien in ons eie lewens.

Die eerste keer by Jesus se voete was sy verneder.

Die tweede keer by Jesus se voete het Hy haar geleer.

Die derde keer by Jesus se voete het sy oorgegee en dit was by die kruis.

Die vierde keer by Jesus se voete het sy gejuig want Hy het opgestaan en vir haar hoop gegee vir 'n beter toekoms.

Hoe wonderlik is dit nie dat as ons, ons lewens aan Jesus gee, Hy ons pyn en vernedering kan verander na 'n lied van geluk, liefde en hoop.

In elke een van ons skuil 'n Maria Magdalena. Al is dit pyn, vernedering of enige iets anders.

Jesus het met elke een van ons 'n plan. By Hom is geen sonde so groot dat Hy ons nie sal vergewe en ons 'n nuwe lewe gee as ons daarvoor vra nie.

Iets wat ek ook by Maria Magdalena geleer het, is nadat Jesus haar sondes vergewe het, het sy baie tyd saam met Hom deurgebring. Deur kosbare tyd met God deur te bring in my dag, het dit my krag gegee om my eie lewe reg te kry en te strewe om te wees hoe God wil hê ek moet wees.

Ek moet dit nog daagliks doen want ek is nog steeds in my baba skoene met alles wat God my wil leer.

Maria Magdalena het die Ware Jesus geken en geweet wat Hy vir ons in ons sondige lewens kan beteken.



Liewe Heer

My gebed vandag is dat ons U sal dien soos Maria Magdalena U gedien het. Dat U ook vir ons kan doen wat U vir haar gedoen het. U het nie verander nie.

Dankie Heer dat ons in U woord kan leer dat daar ook ander vroue was wat ook die pyn en hartseer gehad het wat ons vandag nog deurgaan, maar dat U vir ons die hoop gee om aan te gaan en te weet dat daar beslis vir ons 'n beter toekoms wag saam met U.

In U Heilige Naam vra ek dit.

Amen

Monday, October 11, 2010

Ken jy jouself?

In hierdie tyd wat ek al hierdie dinge deurgegaan het, het ek baie keer vir myself afgevra: " Wie is jy?"

" Wie wil jy wees"?

Daar is niks fout om 'n title te hê, mooi te wees nie. Maar is dit valse waardes wat jou valse sekuriteit gee?

Is dit die masker waar agter jy wegkruip?

Net geluk wat van diep binne spruit, het blywende waarde.

Net blydskap in Christus Jesus het blywende waarde.

Blydskap wat bly, al is daar wel pyn en swaarkry in jou lewe. Blydskap wat jou die lig laat sien in die donker tonnel.

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel"
Matthues 5:3

As ons erken dat ons hulpeloos is en nie sonder ons Hemelse Vader kan klaarkom nie, is dit soveel makliker vir ons om Sy hand in ons lewens te vat en die pad saam met Hom te loop.

God se liefde en hulp kan nie gekoop word nie, maar God is daar om dit vir jou as 'n geskenk te gee. Is jy gereed om Hom 'n kans in jou lewe te gee? Sê net "Ja".

God is reg om jou deur die grootste pyn en lyding in jou lewe te dra. Hierdie verandering in jou lewe gaan dalk baie werk van jou kant vat om jou eie lewe te verander en die persoon te leer ken wat God wil hê jy moet wees, met opregte blydskap.

Baie keer is dit nie eers die weg wat jy gedink het jou lewe sal vat nie, maar waar God betrokke is maak Hy 'n weg om dit te laat uitwerk.

'n Weg wat die Here dikwils gebruik om ons te help is om ander mense in ons lewens te gee wat ons deur hierdie pyn en leiding te help.

Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.
Prediker 4:9-10

Hoe wonderlik is dit dat God self in my lewe van pyn en lyding vir my iemand gegee het wat in my geglo het en my deur hierdie hartseer en pyn kon gehelp het.

En is dit nie wonderlik dat hierdie persoon net op die regte tyd op die regte plek daar verskyn nie. Dit kan enige iemand wees.

'n Vriendin, 'n eggenoot, 'n persoon in jou kerk. God weet wie jy nodig het in jou lewe en wat jou omstandighede kan verstaan.

Hierdie pyn en leiding wat ons deurgaan kan ons nie net fisies uitput nie maar ook emosioneel. Daardie persoon wat die Here in jou lewe plaas is dikwils die persoon wat jou ondersteun met liefde, begrip, motivering en wysheid. Alles eienskappe wat God in daardie persoon geplaas het.

Dikwels gebruik God daardie persoon om Sy wysheid vir jou oor te dra. Dit is 'n persoon wat dieselfde pyn en lyding deurgegaan het en uit ondervinding praat en kan raad gee. Net daardie geduldige oor om te luister help ook baie sonder om veroordeel te word. Dit is ook makliker om deur hierdie persoon wat deur dieselfde krisis as jy gegaan het te leer om dinge te hanteer en te verwerk as by 'n persoon wat dit nie deurgegaan het nie.

Dit is in hierdie proses van genesing waar jou waardes weer opgebou word en deur jou waardes op te bou leer dit vir jou wat belangrik is in jou lewe en wie jy regtig is en wil wees. Deur jou te omring met mense wat jou waardes deel en dieselfde waardes het, maak dit die genesings proses ook soveel makliker.

Bly weg van daardie mense wat jou waardes wil afbreek en jou laat twyfel in die plan wat die Here vir jou het.

Kry ook iemand wat eerlik met jou sal wees. Wat vir jou vir vinnig sal sê as hy/sy sien dat jy van jou rigting wyser weg beweeg. Ek is so dankbaar vir my man en kinders wat die Here aan my gegee het. Hulle is daar om my op my weg te laat konsentreer wat God vir ons daar gestel het. En baie keer is dit my seuns se sagte woord wat my net weer laat besef hoe lief God my het.

Om daagliks te soek na daardie wysheid wat ons lewens kan verbeter soos om ons kommunikasie kanaal na God oop te hou help om deur al hierdie swaar dae te kom.

 So smaak die kennis, die wysheid ook; as jy dié gekry het, het jy 'n toekoms, en jou hoop sal jou nie ontneem word nie.
Spreuke 24:14

Kom ons hoop op wat God vir ons beplan vir ons toekoms en kry daagliks ons wysheid deur wat God vir ons gee.

Kyk na jou lewe en besluit wie jy wil wees en wat vir jou belangrik is.


Liewe Heer

Ek bid vandag dat elke stukkende vrou en daar is baie, voor U sal kom staan en besef wat U vir haar in haar lewe wil beteken. U is die Groot en Enigste Geneesheer.  Ek het gesien wat U vir my in my lewe verander het en dat niks te groot is om te oorkom as U aan ons kant is nie Heer.

Dankie Hemelse Vader dat ons U het wat ons onvoorwaardelik lief het met al ons foute en hartseer in ons lewens. Ek dra elke vrou wat hierdie blog lees vandag aan U op en weet dat daar vir hul almal 'n uitkoms is in die omstandighede waar hulle nou is. U is getrou in alles wat U ons belowe het. Druk hierdie liefde op hul harte Heer dat hulle ook kan besef dat U ons wil genees van elke seer en pyn in ons lewens.

In Jesus se Heilige Naam.

Amen


Monday, September 20, 2010

Krag van God vir elke dag.

"It's not what you do once in a while, it's what you do day in and day out that makes the difference"
Jenny Craig

So moet ons daagliks ook ons krag van God kry. Ons kan nie net nou en dan vir God hulp vra om aan te gaan met ons lewe nie, maar daagliks het ons Sy leiding en hulp nodig om ons lewens as vroue van God volkome te lewe.

Laat ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus, prys omdat Hy so wonderlik goed was vir ons. Hy het ons die nuwe geboorte gegee sodat ons nou ook met sekerheid kan uitsien na die dinge wat vir ons voorlê. God het al hierdie dinge vir ons moontlik gemaak toe Hy vir Jesus Christus uit die dood lewendig gemaak het. In die hemel hou God nou vir ons 'n erfenis wat nooit tot niet kan gaan nie. Maar omdat julle op God vertrou, bewaar Hy julle totdat julle by daardie oplossing uitkom wat nou reeds lê en wag tot wanneer dit op die laaste dag deur almal gesien sal word. Julle moet bly wees oor wat vir julle voorlê, al vind God dit nodig om julle nou vir 'n tydjie hartseer te maak met al die moeilikheid waarmee Hy julle op die proef stel. Onthou hoe daar met goud gewerk word. Goud is iets wat uiteindelik sal vergaan, en tog doen mense die moeite om dit in die vuur te smelt om vuiligheid daaruit te verwyder. Julle geloof is baie meer werd as goud. Daarom wor dit ook op die proef gestel. As dit deur die toets gegaan het, sal julle eendag geprys word en eer ontvang as ons weer vir Jesus Christus sien.

1 Petrus 1:3-7

Mag God julle vandag seën in alles wat julle doen en mag julle Sy hand daagliks in julle lewens sien deur al die wonderlike dinge wat ten goede vir ons uitwerk.

Dit is my gebed vir julle vandag!




Friday, September 17, 2010

Selfvertroue, Selfrespek

Dit is hartseer dat in die hele proses van hierdie pyn en lyding ons selfvertroue en selfrespek dikwils ook 'n groot knou kry.

Om jouself te help om 'n beter mens te wees moet jy weet wat in jouself en jou gedagtes aangaan.

Ons gedagtes is 'n baie magtige middel wat kan help om daardie sukses van selfvertroue en selfrespek te bou.

Hier is 'n paar wat ek in my lewe toepas wat ek daagliks leer help om hierdie pad te stap en my 'n sterker mens te maak.

1. Ken jouself: Doen selfondersoek. Vind uit wie jy regtig is. Ons is so geneig om nie regtig te weet wie  
                         jy as persoon is nie. Vind uit van wat jy hou en nie hou nie. Vind ook hierin jou swakhede.
                         As jy weet wat jou swakheid is kan jy daaraan werk om dit te verbeter. Elke keer as ek
                        daardie negatiewe antwoord van iemand kry - gebruik ek dit om myself net sterkter te maak
                        en positief te wees oor myself.

2. Aanvaar jouself: Maak vrede met jouself. Baie keer is ons, ons eie grootste vyand omdat ons. onsself verwyd oor alles wat in ons lewens gebeur.  Ons is so bekommerd dat ander mense ons nie sal aanvaar nie. Hou op om te wonder wat ander mense van jou dink en sê. Waar die menslike faktor inkom sal hulle altyd fout vind. Al weet jy in jou hart dat dit waarvan hulle jou beskuldig nie waar is nie. Onthou net God ken elke een van ons harte en in God se oë is jy die beste vir Hom. Hy het jou geskape volgens Sy beeld. Aanvaar wie jy is. Dit sal jou vry maak.

3. Neem beheer in jou lewe: Jy kan nie beheer van jou lewe neem sonder God en Sy hulp nie. Sonder God is ons niks. Stel Hom eerste. Besluit wat is belangrik in jou lewe en waarna jy strewe.  Moet nie soos die Engelse sê 'n "People Pleaser" wees nie. Mense sien deur mens en gou sal hulle jou uitspoeg. As ons mense najaag en wil gelukkig hou kan jy nie jouself ken en God se wil doen nie. Hou jou oë op God gefokus en doen Sy wil en jy sal gelukkig wees. God sal deur jou na ander skyn. Daardeur neem jy verantwoordelikheid vir jou optredes, gevoelens en rigting waar in jou lewe beweeg.

4. Selfgelding: Elke vrou het die reg om te besluit hoe sy haar lewe wil lei. Die doelwitte wat jy vir jouself stel, die waardes in jou lewe. Jy moet die gewoontes van stilte verbreek en jou behoeftes uitspreek asook jou begeertes. Wanneer jy begin om standaarde daar te stel, sal die mense om jou ook weet wat jy van hulle verwag en waar hulle met jou staan. Dit maak klaar 'n kanaal vir kommunikasie in jou gesin en omgewing oop.

5. Triomfantlike Waardes: Waardes is jou eie ideale en beginsels wat jou lei in jou daaglikse lewe. Dit beinvloed jou verhoudings, gedrag, keuses en gevoel. Asook jou selfbeeld. Vroue met 'n hoë selfagting is baie duidelik oor wat hulle glo en waarom. Hulle is gemaklik met hulle waardes. God verwag nie minder van ons as vroue nie.

Om by hierdie bogenoemde stappe te kan hou moet jy alle negatiewe gedagtes, houdings, gewoontes uit jou lewe uitskuif wat jy in jou lewe ontwikkel het.

Plaas terug die balans in jou lewe.

Ek sal graag jul terugvoering wil hê.  Plaas graag julle " comments" op my blog. Daar is baie mense in ons daaglikse lewe wat met dieselfde pyn en leiding sit. En ek dink God gebruik ons om ander vroue wat ook in hierdie situasie is te help en by te staan. As ons as vroue saamstaan en mekaar se verhale hoor, sal ons dit besef dat God vir ons daar is en dit nie gaan oor die verlede nie maar oor die toekoms wat vir ons wag.

Dit is die rede hoekom ek hierdie blog begin het, want ek weet wat dit vir my beteken het. Om ander by te staan het self ek ook genesing daar uit gekry en kry dit nog elke dag. God herinner my net daagliks daaraan dat ek baie dankbaar moet wees oor alles wat ek het en hoe wonderlik my lewe is met Hom as deel daarvan.

Ek hoor graag van julle.

Gedagte vir vandag:

Mense wat besef dat hulle niks het om by God mee te spog nie, kan bly wees want hulle besit die nuwe hemelse ryk! Mense wat nou treur; kan bly wees want God sal hulle vertroos! Mense wat gewillig is om die minste te wees, kan bly wees want die hele aarde sal hulle erfenis wees! Mense wat 'n brandende begeerte het om te doen wat God wil hê, kan bly wees want God sal daardie begeerte bevredig! Mense wat ander met meegevoel behandel kan bly wees, want God sal hulle met meegevoel behandel! Mense wie se harte rein is, kan bly wees want hulle sal God sien! Mense wat vrede maak, kan bly wees want God sal hulle sy kinders noem! Mense wat vervolg word omdat hulle doen wat God wil hê kan bly wees want God se nuwe ryk behoort aan hulle. Julle kan bly wees as mense julle beledig omdat julle aan My behoort en as hulle julle daarvoor vervolg en leuens teen julle opmaak. Julle moet bly wees en oorloop van vreugde! Want julle sal 'n groot beloning kry in die hemel. Onthou, die profete is vroeë ook so vervolg.

Matt. 5:3-12


Mag julle almal 'n wonderlike dag hê en glimlag want ons is Konings kinders.




Thursday, September 16, 2010

Blomtyd saam met God

Wat in hierdie lewe is maklik? Wie kan op hierdie aarde sê dat sy geen hartseer gehad het nie. Alles goed gegaan het in die lewe?

Het jy nog nooit 'n hartseer oomblik beleef nie, nog nooit was jou hart gebreek deur 'n eerste liefde nie, iemand wat jy vertrou het jou seergemaak het nie? Woede oor die onregverdigheid wat daar teen jou is nie? Gebeure wat in jou lewe gebeur wat jy geen beheer oor het nie?

Ons lewe in 'n gebroke wêreld met baie siek mense wat 'n Goeie Geneesheer nodig het.

Dit is nou tyd om daardie genesing nou vir eens en altyd toe te pas. Lewe vandag of dit jou laaste dag is. Hoe weet ons of ons môre nog die geleentheid gaan kry om volkome te lewe en 'n kans te vat met ons lewe  wat ons gekry het.

Ek het net besluit dat ek ook iets in hierdie lewe kan beteken. God het in elke een van sy kinders 'n talent geplaas wat jy kan gebruik tot eer en verheerliking van Sy Naam.

Geluk, geduld, liefde, opregte omgee en vergifnis is deel van die nuwe gevoelens wat ek vrylik van ons Geneesheer ontvang het om daagliks in my nuut ontvangde lewe te kan geniet.

Vertroue is seker een van die wonderlikste gevoelens om te hê en nie altyd agterdogtig te raak as iemand te na aan jou kom nie. Om my medemens te aanvaar vir wie en wat hulle is.

Ek dink wat vir my die lekkerste is van my volkom nuwe lewe is om elke oggend op te staan met 'n lied in my hart en in God se arms in te val en te weet vandag dra God my deur hierdie lewe en ek gaan dit aanpak met die God wat hemel en aarde geskape het.

Hierdie glimlag wat jy sien is nie masker nie, maar 'n glimlag vol geluk, 'n volkome hart wat uitborrel in die klein lag spiertjies in my gesig. Trots lig ek my kop want ek is 'n prinses. God het elke een van Sy kinders so lief en ons moet dit net elke dag besef.

Dit is wanneer die lewe van alle kante af druk en ons nie meer wil opstaan, wat ons Hemelse Vader sy plat getrapte kind deur die pyn van die lewe optel en afstof met Sy geluk.

Meisie, Ma, Ouma lag, lag kliphard en lag vir die geluk in jou lewe. Lag met jouself. Die lewe kan ook vir jou 'n lied inhou. Wees anders. Begin volkome Lewe!

Ek kan nie vir jou hierdie gevoel verduidelik wat ek in my lewe voel nie. Nooit het ek gedink dat ek ooit so sal voel nie. Nooit het ek gedink dat daar vir hierdie stukkende liggaam en gees 'n sonskyn plekkie in die stukkende wêreld is nie.

'n Positiewe denkwyse en lewe is geneig om ook om die mense om jou af te vryf. As jy elke dag jou liggie laat skyn en borrel met God se geluk wil die volgende persoon ook dit hê wat jy besit.

Gou is daar soveel positiewe gevoelens om jou en dit kan niemand van jou wegneem nie aangesien dit uit die LEWENSBRON kom wat nie einde het nie. Dit kan nie opdroog nie. Die Volmaakte Fontein van geluk.

Daar is dae dat ek ook nog my af dae kry en wat die satan wil gebruik om my moedeloos te maak en my oë van God af wil skuif. Maar dan ruk ek my gedagtes terug na God en herinner myself net daaraan dat ons mens bly maar met die krag wat God in ons geplaas het kan ons teen die aanslag van die duiwel baklei.

Vat hierdie kans - nooit sal jy spyt wees oor hierdie stap wat jy vir jouself neem en ook vir die mense naby aan jou.

Ek het altyd gedink dat as jy maar aangaan sou dit een of ander tyd weggaan, sou dit een of ander tyd beter word.

Dit is daar waar ek die fout gemaak het, ek het alles uit God se hande geneem en wou my lewe beplan soos ek dit wou hê.

Jy kan nie met die geheime in jou hart saam lewe nie - daar sal nie genesing kom nie. God kan alleenlik deur jou werk as jy ALLES vir hom oorgee.

God wil hê dat as Hy jou as vrou genees dit volkome sal wees, nie vandag hier ietsie en dan as jy jou goed gedra sal Hy dalk volgende week die ander seer gevoelens weg vat nie.

Nee, God genees volkome elke liewe gevoel wat tussen jou en God staan. Hy genees met 'n volmaakte genesing wat niemand van jou kan steel nie, nie eers satan nie.

Vra daarvoor, God sal dit nie op jou afdwing soos baie in die lewe op jou afgedwing word nie. God gee jou die kans om daardie besluit te neem en Sy krag te ontvang om voort te gaan.

Weer smeek ek jou om die kans met God te vat. Hierdie is nie 'n dobbelspel met party keer wen jy party beloor jy nie. Hierdie is 'n wen, wen situasie.

Jy het regtig niks om te verloor nie, maar jy kan beslis baie uit hierdie stap wen.

Ons God is so geduldig met ons - vir hoeveel jare het God my geroep en gevra: "My kind ek wag vir jou kom na My toe. By my is daar genesing vir jou." Nooit het Hy moeg geword om vir my te wag nie.

As ek jare terug geweet het wat ek vandag weet, het ek al lankal op God se roepstem geantwoord. Ek sou vir myself soveel jare van hartseer gespaar het.

Wat ek in hierdie hele proses van genesing geleer het is, dat jy alleenlik op God volkome kan vertrou. Hy sal jou nie teleurstel nie.

Volkome vertroue lê  by God - God wat reg en geregtigheid laat geskied. God wat sy kind se hartseer wegvat en die beloftes nakom wat Hy aan ons gegee het. God wat die hart van klip uithaal en vir jou 'n rein hart van vlees gee.

God wat hierdie mensie help om haar kop te lig en op te staan teen die wêreld.

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
Filippense 4:13

Deur met God te kommunikeer deur die dag het baie probleme ook vir my makliker geword om te hanteer. Dit was vir my soos om met my beste vriend te praat. Daardie gevoel wat die Here in jou hart plaas van die gerustheid en vrede het my net verseker dat God elke oomblik van die dag by my is en my help met elke besluit wat ek neem.

Dit het my nie gekeer om nog party keer my kop te stamp deur my eie besluite te maak nie, maar dit was makliker om op te staan en aan te gaan en te weet God is met my. Ek het nie terug gegaan in daardie donker gat wat my soveel keer voorheen ingesluk het as ek die verkeerde besluite geneem het nie. Daardie moedelose gevoel van verlore krag is nie meer daar nie.

Dit is meer 'n gevoel van ek kan en ek gaan. Jy is God se oogappel.

Ek dink regtig God maak van ons almal oorwinnaars van die geraamtes in ons lewens deur dit by Sy voete te lê.

Ek het baie gedink soos ek hierdie boek oor my lewe geskryf het en baie keer so ontbloot gevoel. Ontbloot vir die hele wêreld om te sien wat in hierdie een persoon se lewe aangaan, maar wat daagliks oral in die wêreld gebeur of dit die daaglikse verloop van die lewe is.

Nie net deur my molestering nie, maar baie ander pyn en lyding wat ons as vroue daagliks moet deurgaan in ons lewens.

Ek glo elke een wat hierdie blog lees kan hulle eie boek skryf van die pyn wat hulle al deurgegaan het. So my storie is nie uniek nie, maar ek weet dat God my wil gebruik om vir ander vroue hoop te gee om op te kyk na Hom vir geluk.

Dit is wat dit vir my makliker maak om my te ontbloot aan elke stukkende en bang vrou, dogter, ma, ouma, tannie, niggie en vriendin daar buite.

Ons is nie die eerstes wat deur hierdie probleme gaan nie en ons is ook nie die laaste wat dit gaan deurgaan nie.

Maar - ons kan die vroue word wat vir die volgende generasie vroue die hoop kan gee dat ons nie deel van die statestieke gaan wees nie.

Wees volkome vrou.

Geniet jou man, kinders, familie en vriende.

Wees jy die ligstraal in hul lewe. Vat beheer van jou lewe met God se krag en hulp. Jy sal nie die verkeerde besluite neem as God aan die stuur van jou lewe is nie. En bid - daar is geen einde aan die krag van gebed nie.

Al voel dit party dae dat jy teen die dak vasbid - nee, mens God hoor elke smeek gebed, gelukkige gebed, wat van jou af kom.

"Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap VOLKOME kan wees."
Johannes 16:24

God maak 'n belofte aan ons. Laat God toe om deur jou te werk en Hy sal jou lewe 'n blomtuin van geluk maak.

'n Pragtige blomtuin is nie net 'n fees vir die oog om te sien maar die geur van liefde wat dit deur die lug dra kan enige swaar gemoed opbeur.

So moet ons, ons blomtuine in die lewe laat blom deur ons optrede en liefde wat ons kan uitgiet na die wêreld.

Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dan verdien 'n vrou om geprys te word.
Spreuke 31:30

Soos die bybel hier vir ons sê wys dit duidelik dat ons skoonheid van binne moet kom waar God in ons harte werk.

My wens is dat elke vrou hierdie volkome geluk deur Jesus Christus mag ontvang en die blomtyd in haar lewe kan begin met God.

Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dit: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?
Romeine 8:31

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.

Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte.

Of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Romeine 8: 37-39

Hierdie woorde kan jou ook vry maak - Wees volkome vrou deur die liefde van Christus Jesus ons Here.

Wees 'n Kampioen in Jesus vandag.

En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan Sy lyding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikeheid.
1 Tessalonisense 5:17

Geniet dit om Volkome vrou te wees in Jesus.




Hierdie drie manne in my lewe is my geskenk van God en dit is hulle wat my elke dag laat besef dat ek kan gelukkig wees en dat by God alles moontlik is.

Soek vandag ook die geluk in jou lewe, die klein dingetjies wat jou lewe die moeite werd maak.


Gedagte vir die dag:

Stel die Here op die proef, dan sal julle sien hoe goed Hy is.
Iemand wat by Hom skuil, sal bly wees.
Ps. 34:9

Geniet julle dag!






















Wednesday, September 15, 2010

Identiteit's Dief?

Hoeveel van ons vroue kan met alle eerlikheid sê ek ken myself volkome en ek weet wat ek in die lewe wil hê.

Alles aan haar spreek van 'n strek en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde.

Sy hou goeie toesig oor haar huishouding; lui is sy nie. Haar kinders prys haar, haar man bewonder haar.

Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!

Spreuke 31:25-29

Soos die woord vir ons hier 'n mooi uiteensetting gee van 'n volkome vrou - weet ek dat in elke een van ons hierdie eienskappe is. God het dit vir ons almal gegee. Gebruik dit. Tot eer en verheerliking van God wat dit alles vir jou moontlik gemaak het.

Hierdie is die begin van oorvloedige blydskap net vir jou want God wil hê ons moet opstaan uit die stof van die verlede. Skud dit af van jou voete.

Vroue - God se liefde het genesende krag. En dit is hier wat ons gaan leer wat God se liefde regtig in ons lewe kan beteken. Daar is iets soos Volmaakte Liefde en dit kom van ons Hemelse Vader. Hy het dit eerste aan ons bewys.

God se liefde kan ook in jou lewe waarde, genesing en sekuriteit bring.

Ek dink sekuriteit is een van die behoeftes wat ek in my lewe baie gemis het. Daardie sekuriteit van dat jy aan iemand behoort nie omdat hy of sy gedwing word om jou in hulle lewens te hê nie, maar omdat hulle vrywillig wil. God gee ons daardie sekuriteit.

Waarde toevoeging in ons lewe is ook baie belangrik. Soos ek voorheen genoem het was daar 'n groot tekort aan waarde toevoeging in my lewe - niks het waarde gehad nie. Jou waarde is hoog soos God vir ons in die volgende teksvers noem:

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

 Johannes 3:16

Jy is van onskatbare waarde.

Om hierdie oorvloedige blydskap in ons lewens te hê kan ons die volgende toepas:

  • Besef wat ware liefde behels vir jouself en jou medemens.
  • Opreg lewe en op 'n Goddelike manier.
  • Ervaar die genesende liefde van God in jou lewe.
  • Blydskap en geluk wat spontaan uitvloei.
  • Wees positief oor alles in jou lewe.
  • Bid, Bid, Bid en weereens Bid. Gebed is kragtig. Elke keer wanneer ek voel dat ek moedeloos raak of ek bang voel bid ek. God gee my daardie rustigheid en krag vir elke dag om aan te gaan.
Om God se liefde te kan ervaar moet ons as mens eers ons eie gedagtes en harte verstaan. Daarom is dit so belangrik om selfondersoek te doen.

Met God se liefde kom ook krag. As ons op ons kragte moet staat maak om ons doelwit te bereik sal ons dit nooit kan doen nie, God is daar om ons sterk te maak in ons poging.

Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer. 
Prediker 4:9

Gelukkig is die mense wat op die Here vertrou en hulle verwagting in Hom stel.
 Jer.17:7



Jy kan alleen gelukkig wees as jy jou omstandighede en jouself aanvaar het.

Deur al hierdie beproewings wat jy deurgegaan het en nog steeds gaan deurgaan. Die beproewings sal altyd daar wees. Maar God is ook altyd daar.


Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard.

Jakobus 1:12

Ons moet onsself bevry van al die kettings wat ons vir jare al vas geboei het.

Wat ek in hierdie proses van genesing besef het is dat ek nie my huwelik om die regte grondslag gebou het nie en dat daar baie tekort skiet in my optrede teenoor my man. Ek het met al hierdie bagasie in die huwelik ingestap en hom ook oorlaai met al my sorge. Gelukkig vir my het God my so lief gehad dat hy vir my 'n baie wonderlike persoon gegee het met baie begrip en uithouvermoë. Glo my ek dink regtig hy het baie keer hare op sy tande nodig om my te kan hanteer as ek nie geweet het hoe om al hierdie emosies te kan hanteer nie. Ek dink die blootstelling was ook vir my erg om te erken ek sit met soeveel tekortkominge in my lewe en dat ek vasgehou het daaraan. Om te verander in myself was baie moeilik.

Soveel kere het ek mure om my gebou en my lewe toegemaak soos 'n boek dat daar geen kans was vir hom om te weet hoe ek voel of wat ek dink nie. Ek het in my eie klein wêreldjie gelewe wat veroorsaak het dat ek hom moedeloos gemaak het as ek voel dat hy my nie verstaan en nie omgee nie of as hy my oorval met sy liefde. Maar ek het hom nie toegelaat om altyd in daardie wêreldjie by my te staan en saam met my die mure af te breek nie. So het ek ook 'n muur tussen my en God gebou.

Dit is een van die lewenslesse wat ek geleer het is om te begin by die huis. Maak oop die boek - laat jou man lees wat daar in jou lewe staan. Dit is net regverdig teenoor hom en God om jou hele lewe ook voor hom oop te lê. Jy sal verbaas wees hoe die verandering ook in jou huwelik kan intree en 'n volmaakte liefde kan wees soos God dit gemaak het vir 'n huwelikspaar. God het nie liefde half gelaat nie - dit is daar om volkome uit te leef. Nie net in jou huwelik nie maar ook in jou eie lewens pad. God het julle een gemaak.

Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.
Genesis 2:24

God wil hê ons moet een wees daarom kan ons nie mure bou om ons nie, maar bou liewer daardie muur om jou huwelik en huisgesin. Met God as die middelpunt in jou stad van geluk.

Satan val ons lewens aan met sonde, versoekings, leuens, mishandeling en soveel ander dinge.

Ons moet net nie die deur vir satan oopmaak en hom 'n kans gee nie, hy sal nie tevrede wees met net 'n sitplek in jou lewens-motor nie, maar sal aan die stuur daarvan wil wees. Gee vir God die stuur van jou lewens-motor. Glo my Hy sal jou op die regte pad hou.

Ons moet kyk na die doelwit wat God ons as vroue in hierdie lewe gesit het. Beslis nie om mishandel, verneder of vernietig te word nie.

Ons is medewerkers in diens van God en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God.
1 Korinthiërs 3:9

Soos die woord ook sê ons is medewerkers in diens van God. Wat 'n wonderlike voorreg vir ons as vroue om te hê.  Dit is al klaar 'n wonderwerk om te sien dat ons so nou saam met God lewe. My vriendin dit al klaar is 'n pluspunt om ons koppe te lig.

Dit is maklik om die genesing proses te aanvaar as jy weet waarna toe God jou as vrou wil herstel en wat God se doel vir jou in hierdie lewe is.

Wie 'n vrou gevind het, het iets goeds gevind en 'n welgevalle van die HERE verkry.
Spreuke 18:22

Ons genesing is so naby met God aan ons sy. Soos God in sy woorde vir ons noem dat ons nie oor enige iets hoef te twyfel nie. As ons saam met Hom wandel sal ons opreg wees.

Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.
Genesis 17:1

Dit is so lekker om te weet God het my opreg geneem deur Sy liefde en genade. Saam met opregtheid kom volkome liefde en omgee vir jouself en vir jou medemens. Dit kan makliker wees om te vertrou aangesien daar nie meer die twyfeling in die menswees is nie asook in jouself.

Daardie lekker gevoel van 'n verligte hart wat soos 'n klip in jou broskas lê nie. Dat die woede wat jy in jou saamdra wegsmelt soos sneeu in die warm sonstrale. En daardie sonstrale is God wat in ons hart en liggaam skyn.

Die Here ondersoek alle harte en ken die bedoeling van elke gedagte.
1 Kronieke 28:9

Deur hierdie proses moet ons ook leer dat ander mense vir ons ook kan waardevol wees. As ons na God as 'n voorbeeld kyk (volmaakte voorbeeld) kan ons besef dat mense waarde kan voeg by ons lewens, soos jou kinders, eggenoot, vriende, ouers of familie.

Ons moet hulle net toelaat om die persoon te leer ken wat God geskep het.

God was beslis nie spyt toe jy as sy kind in hierdie sondige wêreld gekom het nie. Jy is baie spesiaal en Hy het elke stukkie van jou fyn beplan. Jy is sy KIND.

Moenie dat satan en die verlede jou ware identiteit steel nie. God het jou 'n identiteits-nommer gegee wat uniek is. "VRY GEKOOP DEUR JESUS BLOED". Niemand is soos jy nie. Daar is net een pragtige vrou soos jy.




Gedagte vir vandag:

" I will pray the Father, and He shall give you another Comforter, that He may abide with you for ever."
John 14:16 (KJV)









Tuesday, September 14, 2010

Sonstrale?

Wat het veroorsaak dat ek al die jare tog vir God in my lewe gehad het maar nooit volkome genesing ontvang het nie?

Kan dit wees omdat ek my hart nie net verhard het vir my eie menswees en medemens nie, maar ook vir God se werk as Geneesheer in my lewe?

... en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan Sy regterhand laat sit het.
Efesiërs 1:19-20

Vrou, Suster, Moeder, Vriendin - God was nog altyd daar van jou tyd as dogtertjie. Hy het jou as Sy kind nog nooit verlaat nie. Dit is sy krag wat gewerk het in jou lewe en jou wil help om volkome te genees. Satan sal alles in sy mag doen om dit te keer en jou moedeloos te maak. Satan wil God se kinders vir homself hê om net verder te vernietig. Dit is deel van sy plan om hierdie wêreld vir God se kinders ondraaglik te maak. Hy het ons nog nooit verlaat nie, dit is ons wat nie na Sy uitgestrekte hand na ons gryp nie.

Dit wat in jou lewe gebeur het is nie 'n skande nie. Dit gebeur daagliks met baie ander dogtertjies en vroue. Ek was nie die eerste een waarmee dit gebeur het nie en ook nie die laaste een nie.

Dit help nie om stil te bly nie. Open jou hart en maak plan vir God in jou lewe - opreg en volkome oop. Gooi alle bagasie wat jy so lank al saamdra voor Hom neer, moet niks terughou nie want genesing alleen kan kom as jy jouself leegmaak van die eie ek en plek maak vir God. Deur nog geheime terug te hou maak dit net maklik vir Satan om dit later weer teen jou te gebruik en al die pyn en leiding te verleng.

God wil ons so opgewonde maak oor ons lewens dat ons ook soos vetgemaakte kalwers kan rondspring van geluk. Ons moet ons harte oopmaak vir Hom en God toelaat om in hierdie hart van klip te kan werk. Ons moet ons geloof in God plaas.

Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit 'n rein hart, 'n goeie gewete en 'n opregte geloop kom.
Timoteus 1:5


Dit is baie keer agter daardie donker wolk dat die son die helderste skyn. Dit is baie keer agter daardie hoë heuwel wat ons moet oor, dat die mooiste vallei lê. Maak jou hart rein van al die pyn en seerkry, mooi mens.

God het vir elke kosbare vrou op aarde sonstrale en 'n mooi vallei. Ons moet net soek daarna. Die soektog begin binne.

Wat binne genees kan na buite uitgestraal word.

En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
Jakobus 1:5

God sê ook hier vir ons dat ons net moet soek daarna en ons sal ons wysheid van Hom bekom.

Hier is 'n paar riglyne wat ek in my lewe begin toepas het, wat my gehelp genees het:

  • Eerlikheid:  Wees eerlik teenoor God en jouself.
  • Opregtheid: Wil jy opreg genees word, is jy opreg in wat jy vir jou lewe wil hê en teenoor jouself.
  • Vergifnis: Om te vergewe is seker een van die moeilikstes - vergifnis aan wat jy aan jouself gedoen het, vergifnis aan die persoon of persone wat dit aan jou gedoen het, en dat God volkome vergifnis kan gee.
  • Aanvaarding: Aanvaarding was nog 'n groot struikel blok wat ek moet oorkom het. Om te aanvaar dat dit wat gebeur het gebeur het en dat jy kan aangaan. Die lewe kan beter word.
  • Gee: Om jouself te gee aan God. Om jouself te gee aan die mense wat jou opreg lief het.
  • Glo: Ek dink hierdie is een van die belangrikstes: Glo dat God kan genees en glo dat daar iets beter is vir jou in die lewe daar buite. Glo daar is 'n nuwe lewe wat op jou wag.
  • Vertroue:  Vertroue in God, die samelewing, jouself en jou medemens.
  • Waardes: Wat se waardes is belangrik in jou lewe?
Al hierdie dinge neem tyd - God is besig met jou in hierdie genesing proses. Al hierdie stappe kan nie in 'n oogwink gebeur nie. So wees geduldig met jouself en weet verseker dat God daagliks saam met jou die pad na genesing loop.

God se genesings proses kan jare vat maar glo my elke dag is Hy besig om 'n stukkie van die seer te genees en dit volkome uit jou lewe te neem. Daar sal nie 'n dag verby gaan wat jy nie kan voel dat daar iets positief in jou lewe gebeur nie. Dalk nie groot wonderwerke nie maar klein dingetjies soos 'n glimlag van iemand naby aan jou. 'n Goeie nag se rus wat jy dalk nie voorheen gehad het nie. Die nagmerries wat nie meer is nie. Dit is hierdie klein gebeurtenisse wat saakmaak. Soek daagliks daarna. Omring jou met positiewe denke en gedagtes sowel as mense.

Bid tot God vir die wysheid vir wat voorlê met hierdie proses wat ons moet deurgaan. Hierdie is nie 'n proses wat vandag gedoen word en môre is alles reg nie. Nee, dit is 'n proses wat 'n leefwyse word. 'n Leefwyse met God as die middelpunt van jou bestaan en Hy wat elke dag met jou die pad stap.

Om kennis te hê van God se karakter moet ons daagliks tyd saam met Hom spandeer. Deur hierdie tyd saam met God te spandeer kan ons ook Sy karakter in ons sien groei.

Dit was nie maklik vir my om daagliks tyd saam met God te spandeer nie want ek was so kwaad selfs vir God omdat ek gevoel het dat Hy my nie beskerm het teen hierdie pyn nie, maar later wel besef het dat God nie 'n God van pyn en leiding is nie maar 'n God van liefde en omgee vir sy gebroke kind.

Daardeur kan ons meer en meer strewe om soos God op te tree. Nie net teenoor onsself nie maar ook teenoor ons naaste. Dit is wanneer dit nie meer oor die pyn in jou gaan nie maar om vir ander mense om te gee en hulle pyn te wil verlig dat alles verander en jou pyn ligter raak.

Kan sonstrale so gou deurbreek na die storm? Dit hang alles net van jouself af of jy wil toelaat dat God jou genees en in jou lewe werk. Glo my Hy kan. Of wil jy die monster voed?

Kan sonstrale so gou deurbreek na die storm? Dit hang alles net van jouself af!

U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is.

Psalms 16:11



Pragtige vrou God wil ook vir jou oorvloedige blydskap gee. Gryp dit met albei hande aan. Dit is nou die tyd om 'n nuwe begin te maak. Begin nou, begin vandag - die uitnodiging is ook aan jou gerig soos God dit aan my gerig het.

Maak nie saak wat in jou lewe gebeur het nie. Al is die molestering nie, al is dit ander pyn waarmee jy sukkel. God is daar vir ons. Hy het ons gemaak, Hy weet hoe ons voel en werk. Maak oop jou seer hart en siel aan Hom vandag.



Gedagte vir vandag:

Mag ons dierbare Heer jou 'n onverwagse verrassing van vreugde gee voor elke sonsondergang in jou lewe.






















Blog Archive