Photos

Die Geheim van Geluk

Stel die Here op die proef dan sal julle sien hoe goed Hy is.

Iemand wat by Hom skuil, sal bly wees.

Psalm 34:9

Thursday, September 16, 2010

Blomtyd saam met God

Wat in hierdie lewe is maklik? Wie kan op hierdie aarde sê dat sy geen hartseer gehad het nie. Alles goed gegaan het in die lewe?

Het jy nog nooit 'n hartseer oomblik beleef nie, nog nooit was jou hart gebreek deur 'n eerste liefde nie, iemand wat jy vertrou het jou seergemaak het nie? Woede oor die onregverdigheid wat daar teen jou is nie? Gebeure wat in jou lewe gebeur wat jy geen beheer oor het nie?

Ons lewe in 'n gebroke wêreld met baie siek mense wat 'n Goeie Geneesheer nodig het.

Dit is nou tyd om daardie genesing nou vir eens en altyd toe te pas. Lewe vandag of dit jou laaste dag is. Hoe weet ons of ons môre nog die geleentheid gaan kry om volkome te lewe en 'n kans te vat met ons lewe  wat ons gekry het.

Ek het net besluit dat ek ook iets in hierdie lewe kan beteken. God het in elke een van sy kinders 'n talent geplaas wat jy kan gebruik tot eer en verheerliking van Sy Naam.

Geluk, geduld, liefde, opregte omgee en vergifnis is deel van die nuwe gevoelens wat ek vrylik van ons Geneesheer ontvang het om daagliks in my nuut ontvangde lewe te kan geniet.

Vertroue is seker een van die wonderlikste gevoelens om te hê en nie altyd agterdogtig te raak as iemand te na aan jou kom nie. Om my medemens te aanvaar vir wie en wat hulle is.

Ek dink wat vir my die lekkerste is van my volkom nuwe lewe is om elke oggend op te staan met 'n lied in my hart en in God se arms in te val en te weet vandag dra God my deur hierdie lewe en ek gaan dit aanpak met die God wat hemel en aarde geskape het.

Hierdie glimlag wat jy sien is nie masker nie, maar 'n glimlag vol geluk, 'n volkome hart wat uitborrel in die klein lag spiertjies in my gesig. Trots lig ek my kop want ek is 'n prinses. God het elke een van Sy kinders so lief en ons moet dit net elke dag besef.

Dit is wanneer die lewe van alle kante af druk en ons nie meer wil opstaan, wat ons Hemelse Vader sy plat getrapte kind deur die pyn van die lewe optel en afstof met Sy geluk.

Meisie, Ma, Ouma lag, lag kliphard en lag vir die geluk in jou lewe. Lag met jouself. Die lewe kan ook vir jou 'n lied inhou. Wees anders. Begin volkome Lewe!

Ek kan nie vir jou hierdie gevoel verduidelik wat ek in my lewe voel nie. Nooit het ek gedink dat ek ooit so sal voel nie. Nooit het ek gedink dat daar vir hierdie stukkende liggaam en gees 'n sonskyn plekkie in die stukkende wêreld is nie.

'n Positiewe denkwyse en lewe is geneig om ook om die mense om jou af te vryf. As jy elke dag jou liggie laat skyn en borrel met God se geluk wil die volgende persoon ook dit hê wat jy besit.

Gou is daar soveel positiewe gevoelens om jou en dit kan niemand van jou wegneem nie aangesien dit uit die LEWENSBRON kom wat nie einde het nie. Dit kan nie opdroog nie. Die Volmaakte Fontein van geluk.

Daar is dae dat ek ook nog my af dae kry en wat die satan wil gebruik om my moedeloos te maak en my oë van God af wil skuif. Maar dan ruk ek my gedagtes terug na God en herinner myself net daaraan dat ons mens bly maar met die krag wat God in ons geplaas het kan ons teen die aanslag van die duiwel baklei.

Vat hierdie kans - nooit sal jy spyt wees oor hierdie stap wat jy vir jouself neem en ook vir die mense naby aan jou.

Ek het altyd gedink dat as jy maar aangaan sou dit een of ander tyd weggaan, sou dit een of ander tyd beter word.

Dit is daar waar ek die fout gemaak het, ek het alles uit God se hande geneem en wou my lewe beplan soos ek dit wou hê.

Jy kan nie met die geheime in jou hart saam lewe nie - daar sal nie genesing kom nie. God kan alleenlik deur jou werk as jy ALLES vir hom oorgee.

God wil hê dat as Hy jou as vrou genees dit volkome sal wees, nie vandag hier ietsie en dan as jy jou goed gedra sal Hy dalk volgende week die ander seer gevoelens weg vat nie.

Nee, God genees volkome elke liewe gevoel wat tussen jou en God staan. Hy genees met 'n volmaakte genesing wat niemand van jou kan steel nie, nie eers satan nie.

Vra daarvoor, God sal dit nie op jou afdwing soos baie in die lewe op jou afgedwing word nie. God gee jou die kans om daardie besluit te neem en Sy krag te ontvang om voort te gaan.

Weer smeek ek jou om die kans met God te vat. Hierdie is nie 'n dobbelspel met party keer wen jy party beloor jy nie. Hierdie is 'n wen, wen situasie.

Jy het regtig niks om te verloor nie, maar jy kan beslis baie uit hierdie stap wen.

Ons God is so geduldig met ons - vir hoeveel jare het God my geroep en gevra: "My kind ek wag vir jou kom na My toe. By my is daar genesing vir jou." Nooit het Hy moeg geword om vir my te wag nie.

As ek jare terug geweet het wat ek vandag weet, het ek al lankal op God se roepstem geantwoord. Ek sou vir myself soveel jare van hartseer gespaar het.

Wat ek in hierdie hele proses van genesing geleer het is, dat jy alleenlik op God volkome kan vertrou. Hy sal jou nie teleurstel nie.

Volkome vertroue lê  by God - God wat reg en geregtigheid laat geskied. God wat sy kind se hartseer wegvat en die beloftes nakom wat Hy aan ons gegee het. God wat die hart van klip uithaal en vir jou 'n rein hart van vlees gee.

God wat hierdie mensie help om haar kop te lig en op te staan teen die wêreld.

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
Filippense 4:13

Deur met God te kommunikeer deur die dag het baie probleme ook vir my makliker geword om te hanteer. Dit was vir my soos om met my beste vriend te praat. Daardie gevoel wat die Here in jou hart plaas van die gerustheid en vrede het my net verseker dat God elke oomblik van die dag by my is en my help met elke besluit wat ek neem.

Dit het my nie gekeer om nog party keer my kop te stamp deur my eie besluite te maak nie, maar dit was makliker om op te staan en aan te gaan en te weet God is met my. Ek het nie terug gegaan in daardie donker gat wat my soveel keer voorheen ingesluk het as ek die verkeerde besluite geneem het nie. Daardie moedelose gevoel van verlore krag is nie meer daar nie.

Dit is meer 'n gevoel van ek kan en ek gaan. Jy is God se oogappel.

Ek dink regtig God maak van ons almal oorwinnaars van die geraamtes in ons lewens deur dit by Sy voete te lê.

Ek het baie gedink soos ek hierdie boek oor my lewe geskryf het en baie keer so ontbloot gevoel. Ontbloot vir die hele wêreld om te sien wat in hierdie een persoon se lewe aangaan, maar wat daagliks oral in die wêreld gebeur of dit die daaglikse verloop van die lewe is.

Nie net deur my molestering nie, maar baie ander pyn en lyding wat ons as vroue daagliks moet deurgaan in ons lewens.

Ek glo elke een wat hierdie blog lees kan hulle eie boek skryf van die pyn wat hulle al deurgegaan het. So my storie is nie uniek nie, maar ek weet dat God my wil gebruik om vir ander vroue hoop te gee om op te kyk na Hom vir geluk.

Dit is wat dit vir my makliker maak om my te ontbloot aan elke stukkende en bang vrou, dogter, ma, ouma, tannie, niggie en vriendin daar buite.

Ons is nie die eerstes wat deur hierdie probleme gaan nie en ons is ook nie die laaste wat dit gaan deurgaan nie.

Maar - ons kan die vroue word wat vir die volgende generasie vroue die hoop kan gee dat ons nie deel van die statestieke gaan wees nie.

Wees volkome vrou.

Geniet jou man, kinders, familie en vriende.

Wees jy die ligstraal in hul lewe. Vat beheer van jou lewe met God se krag en hulp. Jy sal nie die verkeerde besluite neem as God aan die stuur van jou lewe is nie. En bid - daar is geen einde aan die krag van gebed nie.

Al voel dit party dae dat jy teen die dak vasbid - nee, mens God hoor elke smeek gebed, gelukkige gebed, wat van jou af kom.

"Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap VOLKOME kan wees."
Johannes 16:24

God maak 'n belofte aan ons. Laat God toe om deur jou te werk en Hy sal jou lewe 'n blomtuin van geluk maak.

'n Pragtige blomtuin is nie net 'n fees vir die oog om te sien maar die geur van liefde wat dit deur die lug dra kan enige swaar gemoed opbeur.

So moet ons, ons blomtuine in die lewe laat blom deur ons optrede en liefde wat ons kan uitgiet na die wêreld.

Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dan verdien 'n vrou om geprys te word.
Spreuke 31:30

Soos die bybel hier vir ons sê wys dit duidelik dat ons skoonheid van binne moet kom waar God in ons harte werk.

My wens is dat elke vrou hierdie volkome geluk deur Jesus Christus mag ontvang en die blomtyd in haar lewe kan begin met God.

Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dit: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?
Romeine 8:31

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.

Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte.

Of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Romeine 8: 37-39

Hierdie woorde kan jou ook vry maak - Wees volkome vrou deur die liefde van Christus Jesus ons Here.

Wees 'n Kampioen in Jesus vandag.

En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan Sy lyding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikeheid.
1 Tessalonisense 5:17

Geniet dit om Volkome vrou te wees in Jesus.




Hierdie drie manne in my lewe is my geskenk van God en dit is hulle wat my elke dag laat besef dat ek kan gelukkig wees en dat by God alles moontlik is.

Soek vandag ook die geluk in jou lewe, die klein dingetjies wat jou lewe die moeite werd maak.


Gedagte vir die dag:

Stel die Here op die proef, dan sal julle sien hoe goed Hy is.
Iemand wat by Hom skuil, sal bly wees.
Ps. 34:9

Geniet julle dag!






















No comments:

Post a Comment

Blog Archive