Photos

Die Geheim van Geluk

Stel die Here op die proef dan sal julle sien hoe goed Hy is.

Iemand wat by Hom skuil, sal bly wees.

Psalm 34:9

Monday, September 13, 2010

Volkome Genesing?

Volkome? Wat beteken die woord volkome regtig - dit is geheel en al, totaal, dit is volmaak. Volmaak? Dit is wat ek graag van my lewe wil hê! 'n Volmaakte lewe met volkome genesing. Is dit moontlik?

Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.
Maleagi 4:2

As ons dit net kan toepas in ons lewe wat God se woord vir ons hier gee. As die seer rou is, is dit so moeilik om die sonskyn in ons lewe te kan laat skyn. Maar waar lê die probleem - waar begin genesing?

Begin genesing by jouself? Begin dit deur selfondersoek? Begin dit deur die probleem direk aan te spreek?

Wat maak jou vry? Vry van al die hartseer, woede en laat jou verstaan hoekom jou lewe so draai gemaak het en dat al hierdie dinge wat in jou lewe gebeur het ten goede gebeur het en dat dit van jou as mens 'n wenner kan maak?

Die kampioen hier uit te stap? Passievol oor jou lewe te wees.

Dit is baie moeilik, veral as jy versorg van buite lyk maar so gebroke binne is.

Hierdie hartseer gebeur met so baie van ons vroue vandag. Daagliks in die koerante lees ons dat drie uit elke vyf vroue, meisies, kinders gemolesteer word. Daar word daagliks vroue aangerand. Elke drie minute word daar 'n vrou verkrag. In die media hoor jy van 'n vrou wat deur haar man vermoor is. Meer gereeld hoor jy van vroue wat hulle babas weggooi aangesien hulle net nie kans sien om alleen aan te gaan nie. Hoeveel vroue pleeg selfmoord omdat dit voel dat dit die enigste uitweg is. Hoeveel vroue gaan net aan in hierdie bose kringloop omdat hulle glo dat daar niks beter vir hulle onsuksesvolle lewens daar buite is nie. Ek glo daar is baie vroue wat voel soos ek gevoel het dat dit maar die lewe se lot vir jou is.

Vroue in ons lewens vandag word so vertrap deur die verloop van gebeure dat dit my hart breek om te sien dat daar soveel gebroke vroue om ons is.

Vroue wat daagliks geslaan word deur 'n kêrel, 'n man. Kinders word deur hulle pa, oupa, oom mishandel word. Kinders wat nog nie eers gelewe het wat vermoor word. Vroue wat sommer net wil aangaan al is die pyn, leiding, vernederings en skokke elke dag daar. Vroue wat deur hulle mans verneuk word maar aangaan of dit maar deel van die lewe is.

Dan kom die vraag op - hoekom gee jy nie pad uit die omstandighede nie. Dit is makliker gesê as gedaan. Ek het self nog nie eers die krag gehad om hierdie man wat dit aan my gedoen het in sy gesig te gaan aanvat en aan hom te vertel wat  hy gedoen het is verkeerd nie.

Stukkende vroue - ek weet hoe dit voel om daardie vrees in jou saam te dra. Te glo jy kan nie daar uit nie want daar is niks beter vir jou daar buite nie. Jy is gebore om hierdie pyn en lyding deur te gaan. Ek het dit ook ervaar in my verhoudings met mans wat gevolg het. Hoeveel keer was ek deurmekaar met mans wat my verneuk het, my verbaal mishandel en verneder het en ek kon net nie sien dat ek nie nodig gehad het om hierdie dinge in my lewe deur te maak nie.

As ek vandag terug kyk daarna was dit of ek maar net altyd in hierdie situasie wou wees en dat dit my net meer en meer doodgemaak het binne. Die vrees dat niemand van jou gaan hou met jou geskeurde lewe nie het my die bangste gemaak. Dit het dit moeilik gemaak om myself los te maak uit hierdie vrot gebeure wat my lewe so vasgevang het.

Is al hierdie gebeure deel van ons ongeneeslike wêreld waar in ons bly? Dat ons ook daagliks deel van die statestieke word? Het ons 'n besluit? Het ons 'n besluit of ons deel van hierdie statestiek wil bly? Dit is beslis 'n vraag wat ons almal seker al gevra het. Is dit die lewe wat God vir sy kosbare kind wil hê? Wil God hê jy moet jouself net verder en verder vernietig?

Ek het hierdie vraag al so baie vir myself gevra. " Waar, waar moet ek begin en is dit die moeite werd om te begin? Het ek die krag om hierdie nuwe begin te maak en vol te hou daarmee?"

My antwoord was 'n definitiewe JA - breek die stilte van jare en praat daaroor.

Begin nou en begin by die begin. Dit is tyd om 'n stappie te vat in jou lewe, dag vir dag, uur vir uur deur al die seerkry.

Deur al die hartseer en woede wat sal kan lei tot genesing van liggaam en siel.

Dit is beslis die ergste om te doen. Om te gaan sit en 'n ondersoek te doen na alles wat in die lewe verkeerd geloop het en 'n opsomming te maak van alles wat jy vir eens en altyd uit jou lewe wil skuif. Dit is nie altyd maklik om te erken dat jy ook verkeerde besluite geneem het in jou lewe en jy geweet het dat dit nie is wat jy as mens wou hê vir jouself nie.

Dit is hierdie besluit wat my lewe 'n drastiese stap in die regte rigting geneem het. Wil jy deel van statestiek bly? Wil jy die monster verder voed?

...want julle maak die buitekant van die beker en skottel skoon, maar binne kant is dit vol roof en onmatigheid
Mattheus 23:25

.
Dit is wat ons doen met hierdie pyn. Ons maak die buitekant skoon maar binne is daar roof van geluk, liefde en uitermatige haat en verwoesting.

Hierdie versie in die bybel het my laat besef wat ek besig is om aan myself te doen.

Vrou moet nie jouself van jou menswees roof nie. Ek wou 'n gemeenskap met God begin en kon dit net doen deur myself te herprogrammeer. God maak nie foute nie en ons is nie veronderstel om minder van onsself te dink as wat God van ons dink nie. Wat dink God van jou? Is daar 'n belofte van vrede vir ons lewe?

Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.
Johannes 16:33

God gee om en dink baie van ons. Hy sê  ook in Sy woord dat Hy ons 'n kort tydjie minder as die engele gemaak het (Heb.2:7). Vrou jy is kosbaar vir God.

Hou jou fokus op God. Begin vandag want daar is dalk nie 'n môre om 'n nuwe begin te maak nie. God het ons elke een die geleentheid gegee om ons volle potensiaal in die lewe te bereik. Begin vandag. Ons het net een lewe - lewe dit ten volle. Dit is beslis nie te laat nie. By God is dit nooit te laat nie.

Daar is baie dinge wat keer dat daar volkome genesing kan kom.

Dinge wat gekeer het dat ek volkome genesing kan kry was die volgende:

  • Die hartseer en pyn wat ek beleef het in my verlede het groot skade aangerig vir my as vrou en my emosies - vertroue het hier in die slag gebly soos my vertroue in my medemens en in myself.
  • Kruip weg van die hartseer - met my glimlag het ek baie mense om die bos gelei want daaragter kon ek die hartseer en pyn wegsteek, wat ek baie goed reggekry het. Bitter min mense het regtig geweet waardeur ek gegaan het en wat se woede ek in my saamgedra het nie.
  • Ek het verwerp gevoel en dit het gemaak dat ek altyd negatief was oor alles en almal. Daar was geen toewyding van my kant af as dit by verhoudings kom nie.
  • Kritiek wou ek van geen persoon af vat nie - dit het vir my gevoel of hul my as mens aanval waar dit dalk in sekere gevalle nie die situasie was nie.
  • Deur my optrede en negatiewe houding het ek baie mense van my weggedryf en hul kwalik geneem vir dit.
  • Een van die moeilikste besluite in my lewe wat ek moes neem om volkome genesing te verkry was om te vergewe. Nie net die situasie waar ek my in bevind het nie, maar ook die persoon in die spieël en die persone wat hierdie dinge aan my gedoen het deur die verloop van my lewe.
  • Ek wou opreg liefde gee en kry. Dit was baie moeilik van my kant af om my alles te gee.
  • Mishandeling lei baie keer tot mishandeling en daar is 'n groot moontlikheid dat jy nie eers agterkom dat jy dit doen nie. Hierdie mishandeling is baie keer nie fisies nie maar verbaal.
  • Fout vind om seker te maak dat jy nie die enigste slegte persoon is nie, maar dat almal tog foute het en dalk slegter as joune. So kon ek my eie foute wegsteek en terug sit in my donker wegkruipplek.
  • My liggaam. Hoeveel keer het ek my oorgegee aan kos of my liggaam weerhou van kos. En nie omgegee hoe ek lyk nie. Wat maak dit tog saak as ek twee of drie kg optel? Of so maer is dat ek lyk soos 'n geraamte? Ek is al klaar so lelik van binne. Dit is daar waar ek die fout gemaak het. 'n Gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees. Hierdie woorde het vir my 'n leë betekenis gehad met geen wildskrag nie.
Hierdie genesing waarna ek opsoel was, kon net van God kom. Deur God as Geneesheer kon ek leer om volkome vrou te wees. God het my aanvaar net soos ek is met my swak menswees en foute en ek kan God aanbid net soos ek is.

Maar Jesus sê: " Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het. " Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê  Hy: " Dogter, jou geloof het jou gered gaan in vrede!"
Lukas 8:46-48

Hierdie vrou was desperaat om genees te word. Net so het ek ook daarna gesmag. Jesus het haar liefgehad met al die probleme en so het Hy my ook lief. God wil jou genees en jou laat groei in jou vrouwees. Ek het groei in my vrouwees gekort.

Ek moes die kinderskoene van my verlede uitskop en groot word in my menswees en hierdie volwassenheid kon ek net van God verkry.

Hierdie volwassenheid kon ek alleenlik verkry as ek God waarlik ken. Ek kan Hom neem op Sy beloftes wat Hy aan my gemaak het en dit toepas in my lewe as volkome vrou.


No comments:

Post a Comment

Blog Archive