Photos

Die Geheim van Geluk

Stel die Here op die proef dan sal julle sien hoe goed Hy is.

Iemand wat by Hom skuil, sal bly wees.

Psalm 34:9

Friday, September 10, 2010

Lig in die donker pynlike tonnel?

Ses maande na my laaste mislukte verhouding daag die man op waarmee ek sewe maande later sou trou. Vir die eerste keer in my lewe voel ek dat dit die regte besluit is wat ek maak, vertel hom toe ook van my verlede en toets hom daardeur. As hy regtig vir my lief is soos hy sê hy is sal hy my met my "verlede" aanvaar vir wat ek is. Wat hy toe ook tot my verbasing gedoen het. Aan die begin was alles so wonderlik tot die ou verlede weer dinge begin omkrap het en alles net baie moeilik in my huwelik gemaak het. Baie keer het ek 'n muur om my gebou en kon ek nie die lig daardeur sien nie, omdat ek nog daardie gevoel van vuil gekry het en bang was my man sal my los omdat ek hierdie dinge in my verlde gehad het. Daardeur het ek hom verstoot en ons het 'n hele paar moeilike jare in ons huwelik gehad. Ek het geboorte gegee aan twee pragtige seuntjies.


Met altwee my swangerskappe het ek baie gesukkel en hierdie monster kwalik geneem vir wat hy aan my gedoen het en geglo dit is as gevolg van hom en wat hy aan my liggaam gedoen het dat ek met my swangerskappe gesukkel het.

Ook toe ons, ons baba tussen ons twee seuns verloor het. Wat het hierdie man aan my gedoen? Ek het oorbeskermed oor my seuns gevoel. As iemand aan hulle sou raak, het ek geweet dat ek nie sou terugstaan nie maar my hande af sou baklei vir hulle.

Ek moet sê dat ek baie lief vir my man en kinders is. My troudag was baie spesiaal, vir een keer in my lewe het ek gevoel en hoort iewers en dat daar iemand iets in my goed sien. My kinders se geboorte ook, maar nog kon ek nie die rus in my hart kry oor die verlede nie. Daar was iets wat gekort het om hierdie geraas stil te maak.

Baie aande sal ek nog gedroom het wat hy alles aan my doen. En ek kon nie die krag kry om hierdie man te konfronteer oor alles nie. Jare loop ek met hierdie duiwel binne in my wat nie wil uit nie. Wat my party dae so verbitterd gemaak het dat ek kwaad was vir almal om my.

Vir jare moet ek met hierdie seer in my hart loop en die monster baklei wat so vreet hier binne in my. Ek kon net nie wegkom van die pyn nie. Hoe moet jy hom vermy as hy maar net altyd daar is en oral waar jy probeer om weg te kom.

As jong meisie het ek vir baie jare die familie-byeenkomste vermy aangesien ek nie kans sien om hom te soen-groet en daardie reuk in my neus kan kry wat soos 'n stank aan hom vasklou nie. Ek was so alleen. DIe mense wat wel geweet het wat hy aan my gedoen het, het net gemaak of niks verkeerd is nie. Ek moes met dit saam leef. Daardie hande wat soos lemme deur my siel gesny het elke keer as dit ou wonde oopkrap. Dat hy vir jou glimlag en jou laat onthou dat hierdie geheim nog ons eie is en dat ek die perfekte persoon vir hierdie geheimhouding is. Lank het ek hierdie stryd alleen gestry.

Wat voed hierdie monster????

Wat keer jou om vir eens en altyd die monster uit jou lewe te skuif?

Dinge wat aan jou gesê word soos:

"Bly net stil moet dit tog nie vir iemand sê nie"

"Dit kan nie wees nie - daar is geen bewyse nie" Hoeveel bewyse moet 'n kind gee om te wys wat hierdie man alles aan jou gedoen het?

"Ag ons soek tog net nie moeilikheid in die familie nie" Is dit vir jou belangriker om familie gelukkiger te hou as om 'n kind te beskerm wat God aan jou toevertrou het?

"Jy soek net aandag - los dit net".

"Vergewe maar net en gaan aan".

"Ek bid vir jou".

"Die man sal dit nooit doen nie - hy is dan so goeie mens help almal en gee so om vir sy medemens".

"Het jy dalk nie daarna gesoek nie?"

"Is dit omdat jy so slegte mens is dat al hierdie goed met jou gebeur"?

Het jy al hierdie bewerings gehoor?

Al die hulp wat jy van persone vra wat jy gedink het sal in jou glo en jou met hulle lewens beskerm, verwyd jou oor pyne en wroegings wat jy het. Wees bly jy lewe. Dit is net molestering darem nie moord nie. Glo my dit is presies wat dit is, moord van jou menslikheid - hierdie man het my dood van binne gemaak en dit is so maklik om dit vir die samelewing aanvaarbaar te maak. Sies tog hierdie arme siek lewe waar ons, ons kinders moet in groot maak.

Ouers wat nie eers hulle eie kinders kan beskerm nie want hulle eie lewe beteken vir hulle te baie. En die seerste van alles is wanneer mense wat jy gedink het jy kan vertrou jou laat voel soos die misdadiger en hom as die slagoffer beskerm. Is dit hoe die samelewing van vandag die misdaad wat 'n pedofiel pleeg teenoor 'n kind toesmeer of 'n man wat sy vrou mishandel of vroue wat afgebreuk word tot in die afgrond in dat daar niks van hul mens wees oor bly nie, omdat hulle te bang is om die blik met wurms oop te maak. Mishandeling kan nie net fisies wees nie maar ook verbaal. Deur net geen respek vir 'n vrou se situasie te toon wanneer hul jou as ouer, vriendin of persoon vertrou met hul hartseer nie is so goed soos 'n verdere mishandeling.

Moet ons as samelewing ons oë toehou en onsself God se kinders noem deur maar liewer die vrede te bewaar en die misdadiger daarmee te laat weg kom. Is dit hoe ons vandag ons kinders beskerm en ons kinders wil leer van ons Hemelse Vader se liefde en God se regverdigheid? Dit leer jou beslis nie van liefde of omgee nie. Ook nie dat God jou onvoorwaardelik lief het net soos jy is nie. Oook nie dat God volkome vertrou kan word met jou hartseer en begrip het vir wat jy deurgaan nie. Hoe kan jy dan 'n verhouding met jou medemens en God bou?

Dit bring jou in opstand met die hele samelewing. Dit is wanneer dit moeilik is om respek te hê vir jou medemens. Ons as kinders is groot gemaak met jy moet respek hê vir ouer mense maar geen woorde dt hul wel hierdie respek moet verdien en dat alles wat ouer mense doen nie altyd reg is nie.

Hoekom? Hoekom? Hoekom is die lewe so onregverdig? Is daar dan geen liefde en regverdigheid in hierdie lewe nie? So dit is maar reg dat jy vir jare deur jou oom gemolesteer word en dat hy met sy lewe aangaan of niks verkeerd is nie.  Opmerkings wat na jou toe gemaak word dat jy later voel dit is beslis jou skuld en jy het daarna gesoek. Is daar genesing vir hierdie seer? Dit voel of jou lewe uitmekaar val.

Ek is hierdie jaar al 13 jaar met my wonderlike man getroud. Met 12 jaar se polisie agtergrond waar hy 'n gedeelte daarvan ook by die kinderbeskermings-eenheid gewerk het, het ek uiteindelik iemand wat volkome in my glo. En weet dat hierdie nie net 'n " ek soek aandag" geval is nie. Op een van hierdie byeenkomste wat ek so graag vermy het, het my man besluit dat dit nou net genoeg is en het hierdie oom van my eenkant gekonfronteer met die inligting wat ek aan hom gegee het. Dit het hom nie baie lank gevat om dit te herken nie. Maar nog steeds was daar nie volkome genesing nie. Hy het my net die res van die dag vermy en net weer aangegaan soos gewoonlik.

Wanneer sal dit tog beter word? Word jou monster later ook jou kinders se monster? Ek was so bang iets gaan met hulle gebeur en wat oorbeskermd oor hulle. Het hulle by geen vreemde en familie lede vertrou nie. As hulle wel by 'n familie lid was het gou gevra of daar iets was wat hulle ongemaklik laat voel het. Van kleintyd het ek hulle vertel van al hierdie seer wat met my gebeur het en hulle gewaarsku teen hom en ander soos hy. Want ek het geglo dat hierdie man beslis nog nie sy streke gelos het nie en dat my kinders dalk sy volgende slagoffers kan wees. Met sy sieklike arrogansie was enige iets moontlik. In die omgewing waar hy homself bevind het ek seker gemaak dat my kinders nie is nie en dat hulle alles weet wat belangrik is om hulle self teen hom te beskerm. Hierdie seerkry wil ek hulle beskerm teen want in vandag se tyd word geen kind onsien van hierdie monster se kloue nie.

Hierdie monster wat jy in jou saamdra - teen jou wil - kan baie verhoudings vernietig. Dit is so moeilik om te vertrou. Dit is so moeilik om gevoelens uit te druk. Hierdie monster het jou geleer om vir jare en jare alle gevoelens van woede, seer, vrees en haat te onderdruk moet nie eers praat van liefde nie. Hoe kan jy leer om volkome lief te hê sonder om die monster kans te gee om uit te klim en net weer deel van jou lewe te word?

Dit is na daardie liefde en vrede wat ek so gesmag het. Daardie opregte liefde, die vrede in my hart. Vrede in my medemens. Vrede oor dat God my met 'n doel op aarde gesit het. Vrede dat God vir my, my man gegee het met 'n doel en dat ek die regte vrou vir hom is. Vrede dat God vir my hierdie twee pragtige seusn gegee het en dat ek die regte en beste mamma vir hierdie twee geskenkies in my lewe is. Vrede in my lewe.

Nee, dit is makliker gesê as gedaan. Hierdie monster het elke keer as jy dink dat jy besig is om die stryd te wen net weer sy kloue in jou siel en menswees in geslaan.

Nie my liggaam kans gegee het om te ontwikkel soos dit moet nie en wanneer dit moet nie? Woede het net weer in my opgevlam toe ek swanger was - elke keer as manlief met my moes hospitaal toe jaag aangesien daar tekens was dat daar iets fout is en dat ons kosbare baba se lewe dalk op die spel kan wees. Vrese wat ontstaan het en weereens die negatiewe gevoel van, is jy die regte mamma vir hierdie kosbare geskenkie wat jy binne in hierdie vuil liggaam dra? Hierdie wroeging het ek elke keer alleen baklei want wattter vrou sal aan haar man herken dat sy bang is dat sy nie goed genoeg na hulle kindjie kan kyk of voel dat jou liggaam te vuil is nie?

Hoeveel keer het dit gevoel of ek net alles kan opgee en aanvaar dat daar nie hoop is vir hierdie hele probleem wat ek vir soveel jare in my lewe baklei nie.

Waar is die genesing? Hoe kan dit begin? Waar soek jy daarna? Wat maak 'n mens wat gesond lyk van buite dan so siek van binne? HELP!!!





No comments:

Post a Comment

Blog Archive