Photos

Die Geheim van Geluk

Stel die Here op die proef dan sal julle sien hoe goed Hy is.

Iemand wat by Hom skuil, sal bly wees.

Psalm 34:9

Monday, October 11, 2010

Ken jy jouself?

In hierdie tyd wat ek al hierdie dinge deurgegaan het, het ek baie keer vir myself afgevra: " Wie is jy?"

" Wie wil jy wees"?

Daar is niks fout om 'n title te hê, mooi te wees nie. Maar is dit valse waardes wat jou valse sekuriteit gee?

Is dit die masker waar agter jy wegkruip?

Net geluk wat van diep binne spruit, het blywende waarde.

Net blydskap in Christus Jesus het blywende waarde.

Blydskap wat bly, al is daar wel pyn en swaarkry in jou lewe. Blydskap wat jou die lig laat sien in die donker tonnel.

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel"
Matthues 5:3

As ons erken dat ons hulpeloos is en nie sonder ons Hemelse Vader kan klaarkom nie, is dit soveel makliker vir ons om Sy hand in ons lewens te vat en die pad saam met Hom te loop.

God se liefde en hulp kan nie gekoop word nie, maar God is daar om dit vir jou as 'n geskenk te gee. Is jy gereed om Hom 'n kans in jou lewe te gee? Sê net "Ja".

God is reg om jou deur die grootste pyn en lyding in jou lewe te dra. Hierdie verandering in jou lewe gaan dalk baie werk van jou kant vat om jou eie lewe te verander en die persoon te leer ken wat God wil hê jy moet wees, met opregte blydskap.

Baie keer is dit nie eers die weg wat jy gedink het jou lewe sal vat nie, maar waar God betrokke is maak Hy 'n weg om dit te laat uitwerk.

'n Weg wat die Here dikwils gebruik om ons te help is om ander mense in ons lewens te gee wat ons deur hierdie pyn en leiding te help.

Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.
Prediker 4:9-10

Hoe wonderlik is dit dat God self in my lewe van pyn en lyding vir my iemand gegee het wat in my geglo het en my deur hierdie hartseer en pyn kon gehelp het.

En is dit nie wonderlik dat hierdie persoon net op die regte tyd op die regte plek daar verskyn nie. Dit kan enige iemand wees.

'n Vriendin, 'n eggenoot, 'n persoon in jou kerk. God weet wie jy nodig het in jou lewe en wat jou omstandighede kan verstaan.

Hierdie pyn en leiding wat ons deurgaan kan ons nie net fisies uitput nie maar ook emosioneel. Daardie persoon wat die Here in jou lewe plaas is dikwils die persoon wat jou ondersteun met liefde, begrip, motivering en wysheid. Alles eienskappe wat God in daardie persoon geplaas het.

Dikwels gebruik God daardie persoon om Sy wysheid vir jou oor te dra. Dit is 'n persoon wat dieselfde pyn en lyding deurgegaan het en uit ondervinding praat en kan raad gee. Net daardie geduldige oor om te luister help ook baie sonder om veroordeel te word. Dit is ook makliker om deur hierdie persoon wat deur dieselfde krisis as jy gegaan het te leer om dinge te hanteer en te verwerk as by 'n persoon wat dit nie deurgegaan het nie.

Dit is in hierdie proses van genesing waar jou waardes weer opgebou word en deur jou waardes op te bou leer dit vir jou wat belangrik is in jou lewe en wie jy regtig is en wil wees. Deur jou te omring met mense wat jou waardes deel en dieselfde waardes het, maak dit die genesings proses ook soveel makliker.

Bly weg van daardie mense wat jou waardes wil afbreek en jou laat twyfel in die plan wat die Here vir jou het.

Kry ook iemand wat eerlik met jou sal wees. Wat vir jou vir vinnig sal sê as hy/sy sien dat jy van jou rigting wyser weg beweeg. Ek is so dankbaar vir my man en kinders wat die Here aan my gegee het. Hulle is daar om my op my weg te laat konsentreer wat God vir ons daar gestel het. En baie keer is dit my seuns se sagte woord wat my net weer laat besef hoe lief God my het.

Om daagliks te soek na daardie wysheid wat ons lewens kan verbeter soos om ons kommunikasie kanaal na God oop te hou help om deur al hierdie swaar dae te kom.

 So smaak die kennis, die wysheid ook; as jy dié gekry het, het jy 'n toekoms, en jou hoop sal jou nie ontneem word nie.
Spreuke 24:14

Kom ons hoop op wat God vir ons beplan vir ons toekoms en kry daagliks ons wysheid deur wat God vir ons gee.

Kyk na jou lewe en besluit wie jy wil wees en wat vir jou belangrik is.


Liewe Heer

Ek bid vandag dat elke stukkende vrou en daar is baie, voor U sal kom staan en besef wat U vir haar in haar lewe wil beteken. U is die Groot en Enigste Geneesheer.  Ek het gesien wat U vir my in my lewe verander het en dat niks te groot is om te oorkom as U aan ons kant is nie Heer.

Dankie Hemelse Vader dat ons U het wat ons onvoorwaardelik lief het met al ons foute en hartseer in ons lewens. Ek dra elke vrou wat hierdie blog lees vandag aan U op en weet dat daar vir hul almal 'n uitkoms is in die omstandighede waar hulle nou is. U is getrou in alles wat U ons belowe het. Druk hierdie liefde op hul harte Heer dat hulle ook kan besef dat U ons wil genees van elke seer en pyn in ons lewens.

In Jesus se Heilige Naam.

Amen


No comments:

Post a Comment

Blog Archive