Photos

Die Geheim van Geluk

Stel die Here op die proef dan sal julle sien hoe goed Hy is.

Iemand wat by Hom skuil, sal bly wees.

Psalm 34:9

Tuesday, September 14, 2010

Sonstrale?

Wat het veroorsaak dat ek al die jare tog vir God in my lewe gehad het maar nooit volkome genesing ontvang het nie?

Kan dit wees omdat ek my hart nie net verhard het vir my eie menswees en medemens nie, maar ook vir God se werk as Geneesheer in my lewe?

... en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan Sy regterhand laat sit het.
Efesiërs 1:19-20

Vrou, Suster, Moeder, Vriendin - God was nog altyd daar van jou tyd as dogtertjie. Hy het jou as Sy kind nog nooit verlaat nie. Dit is sy krag wat gewerk het in jou lewe en jou wil help om volkome te genees. Satan sal alles in sy mag doen om dit te keer en jou moedeloos te maak. Satan wil God se kinders vir homself hê om net verder te vernietig. Dit is deel van sy plan om hierdie wêreld vir God se kinders ondraaglik te maak. Hy het ons nog nooit verlaat nie, dit is ons wat nie na Sy uitgestrekte hand na ons gryp nie.

Dit wat in jou lewe gebeur het is nie 'n skande nie. Dit gebeur daagliks met baie ander dogtertjies en vroue. Ek was nie die eerste een waarmee dit gebeur het nie en ook nie die laaste een nie.

Dit help nie om stil te bly nie. Open jou hart en maak plan vir God in jou lewe - opreg en volkome oop. Gooi alle bagasie wat jy so lank al saamdra voor Hom neer, moet niks terughou nie want genesing alleen kan kom as jy jouself leegmaak van die eie ek en plek maak vir God. Deur nog geheime terug te hou maak dit net maklik vir Satan om dit later weer teen jou te gebruik en al die pyn en leiding te verleng.

God wil ons so opgewonde maak oor ons lewens dat ons ook soos vetgemaakte kalwers kan rondspring van geluk. Ons moet ons harte oopmaak vir Hom en God toelaat om in hierdie hart van klip te kan werk. Ons moet ons geloof in God plaas.

Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit 'n rein hart, 'n goeie gewete en 'n opregte geloop kom.
Timoteus 1:5


Dit is baie keer agter daardie donker wolk dat die son die helderste skyn. Dit is baie keer agter daardie hoë heuwel wat ons moet oor, dat die mooiste vallei lê. Maak jou hart rein van al die pyn en seerkry, mooi mens.

God het vir elke kosbare vrou op aarde sonstrale en 'n mooi vallei. Ons moet net soek daarna. Die soektog begin binne.

Wat binne genees kan na buite uitgestraal word.

En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
Jakobus 1:5

God sê ook hier vir ons dat ons net moet soek daarna en ons sal ons wysheid van Hom bekom.

Hier is 'n paar riglyne wat ek in my lewe begin toepas het, wat my gehelp genees het:

  • Eerlikheid:  Wees eerlik teenoor God en jouself.
  • Opregtheid: Wil jy opreg genees word, is jy opreg in wat jy vir jou lewe wil hê en teenoor jouself.
  • Vergifnis: Om te vergewe is seker een van die moeilikstes - vergifnis aan wat jy aan jouself gedoen het, vergifnis aan die persoon of persone wat dit aan jou gedoen het, en dat God volkome vergifnis kan gee.
  • Aanvaarding: Aanvaarding was nog 'n groot struikel blok wat ek moet oorkom het. Om te aanvaar dat dit wat gebeur het gebeur het en dat jy kan aangaan. Die lewe kan beter word.
  • Gee: Om jouself te gee aan God. Om jouself te gee aan die mense wat jou opreg lief het.
  • Glo: Ek dink hierdie is een van die belangrikstes: Glo dat God kan genees en glo dat daar iets beter is vir jou in die lewe daar buite. Glo daar is 'n nuwe lewe wat op jou wag.
  • Vertroue:  Vertroue in God, die samelewing, jouself en jou medemens.
  • Waardes: Wat se waardes is belangrik in jou lewe?
Al hierdie dinge neem tyd - God is besig met jou in hierdie genesing proses. Al hierdie stappe kan nie in 'n oogwink gebeur nie. So wees geduldig met jouself en weet verseker dat God daagliks saam met jou die pad na genesing loop.

God se genesings proses kan jare vat maar glo my elke dag is Hy besig om 'n stukkie van die seer te genees en dit volkome uit jou lewe te neem. Daar sal nie 'n dag verby gaan wat jy nie kan voel dat daar iets positief in jou lewe gebeur nie. Dalk nie groot wonderwerke nie maar klein dingetjies soos 'n glimlag van iemand naby aan jou. 'n Goeie nag se rus wat jy dalk nie voorheen gehad het nie. Die nagmerries wat nie meer is nie. Dit is hierdie klein gebeurtenisse wat saakmaak. Soek daagliks daarna. Omring jou met positiewe denke en gedagtes sowel as mense.

Bid tot God vir die wysheid vir wat voorlê met hierdie proses wat ons moet deurgaan. Hierdie is nie 'n proses wat vandag gedoen word en môre is alles reg nie. Nee, dit is 'n proses wat 'n leefwyse word. 'n Leefwyse met God as die middelpunt van jou bestaan en Hy wat elke dag met jou die pad stap.

Om kennis te hê van God se karakter moet ons daagliks tyd saam met Hom spandeer. Deur hierdie tyd saam met God te spandeer kan ons ook Sy karakter in ons sien groei.

Dit was nie maklik vir my om daagliks tyd saam met God te spandeer nie want ek was so kwaad selfs vir God omdat ek gevoel het dat Hy my nie beskerm het teen hierdie pyn nie, maar later wel besef het dat God nie 'n God van pyn en leiding is nie maar 'n God van liefde en omgee vir sy gebroke kind.

Daardeur kan ons meer en meer strewe om soos God op te tree. Nie net teenoor onsself nie maar ook teenoor ons naaste. Dit is wanneer dit nie meer oor die pyn in jou gaan nie maar om vir ander mense om te gee en hulle pyn te wil verlig dat alles verander en jou pyn ligter raak.

Kan sonstrale so gou deurbreek na die storm? Dit hang alles net van jouself af of jy wil toelaat dat God jou genees en in jou lewe werk. Glo my Hy kan. Of wil jy die monster voed?

Kan sonstrale so gou deurbreek na die storm? Dit hang alles net van jouself af!

U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is.

Psalms 16:11



Pragtige vrou God wil ook vir jou oorvloedige blydskap gee. Gryp dit met albei hande aan. Dit is nou die tyd om 'n nuwe begin te maak. Begin nou, begin vandag - die uitnodiging is ook aan jou gerig soos God dit aan my gerig het.

Maak nie saak wat in jou lewe gebeur het nie. Al is die molestering nie, al is dit ander pyn waarmee jy sukkel. God is daar vir ons. Hy het ons gemaak, Hy weet hoe ons voel en werk. Maak oop jou seer hart en siel aan Hom vandag.



Gedagte vir vandag:

Mag ons dierbare Heer jou 'n onverwagse verrassing van vreugde gee voor elke sonsondergang in jou lewe.






















No comments:

Post a Comment

Blog Archive