Photos

Die Geheim van Geluk

Stel die Here op die proef dan sal julle sien hoe goed Hy is.

Iemand wat by Hom skuil, sal bly wees.

Psalm 34:9

Tuesday, October 12, 2010

Is jy 'n Maria Magdalena?

Een van die vroue wat in my lewe en genesing 'n baie groot rol gespeel het was Maria Magdalena in die Bybel.

Ons dink baie keer dat die vroue in die bybel se tyd dit dalk makliker gehad het as die vroue van vandag se tyd. Ek glo beslis nie so nie. In daardie tyd was dinge baie keer erger as wat ons vandag deurgaan.

Lees gerus Maria Magdalena se verhaal toe sy voor Jesus gebring is in Johannes 8.

Sy was 'n vrou wat "vuil" gevoel het en hier bring hierdie mense haar in die "heiligste plek" voor die "Heiligste Persoon" wat op aarde was. Ek kan myself net indink hoe sy moes gevoel het toe sy so voor Jesus moes staan. Skaam, bang, verneder, kwaad vir die mense wat dit aan haar gedoen het?


Ek dink aan die begin het ek ook so gevoel toe ek voor Jesus kom staan het en my hart voor Hom uitgestort het.

Ek was bang dat God my sal verstoot. Hy wil nie so "vuil" mens in Sy koningkryk hê nie. Soos Maria Magdalena het ek ook baie foute in my lewe gemaak. Ek het gewag vir die oordeel van God se kant af om vir my te sê dat ek nie goed genoeg is om Sy kind genoem te word nie. Skaam was beslis een van die dinge wat ek gevoel het.

Vernederend was dit beslis. Ek het myself ontbloot voor God en al was dit wat met my gebeur het nie my skuld nie, het ek tog so skuldig gevoel daaroor.

En wat doen Jesus toe hulle haar voor Sy voete gooi? Hy luister na alles wat hulle haar van aankla en Hy begin hulle eie sondes in die sand skryf. So ook sê Hy aan hulle dat as een van hulle onskuldig is kan daardie persoon die eerste klip gooi.

So ook maak Jesus vandag met ons, Hy skryf ons sondes in die sand, nie op klip waar dit vir altyd bly nie, maar in die sand waar die wind dit weg kan waai as ons dit voor Hom belei. En dan is dit vergewe en vergeet vir altyd.

So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
Psalm 103:12

Soos Maria se naam ook beteken "Bitter", het ek ook gevoel. Ek was so bitter oor alles wat in my lewe verkeerd geloop het.

Tog gee Jesus vir my 'n uitkoms en Hy is lief vir my, verwyder al die pyn en lyding en gee my Sy genade en maak my 'n nuwe mens. Net soos Hy met Maria Magdalena gemaak het. Die Jesus van daardie tyd is dieselfde Jesus van vandag. Hy het nie verander nie.

Jesus gee lewe. Lasarus opgewek het uit die dood en lewe gegee het, so kan Hy ook aan ons 'n nuwe lewe gee.

Het jy al gewonder as jy voor die besluit moet staan om een ding te kies wat jy in jou lewe nodig sal hê.  Wat sal dit wees?

Vir my is daardie besluit beslis Jesus, want met Hom aan my kant sal ek alles anders kry wat ek nodig het.
Geluk, onvoorwaardelike liefde, vooruitsigte vir die toekoms en nog baie meer.

Maak jouself leeg sodat God jou kan volmaak met Sy wysheid en liefde.

As jy vir iemand lief wil wees moet jy daardie persoon leer ken. Dit is presies wat Maria Magdalena met Jesus deur gegaan het.

Om waarlik vir Jesus te ken moet ons leer deur te bid, te luister na wat Hy vir my wil sê deur my bybel te lees. Tyd saam met God te spandeer. As ons nie daagliks tyd maak vir God nie sal die wêreld daardie plek gou genoeg inneem. Dit is belangrik om jou dag met God te begin en ook so af te sluit. Dit is soos die manna wat God se mense in die woestyn gekry het. Hulle het dit in die oggend ontvang wanneer dit vars was. So moet God se woord ons manna vir die dag wees.

Watter stem hoor jy in jou lewe? God se stem of die wêreld se stem?

Hoe dink jy het Jesus geweet wat Sy Vader van Hom verwag? Self Jesus het gesê dit staan geskrywe. Dus kan ons daaruit leer dat met Sy tyd op aarde Hy ook die bybel bestudeer het.

Ons moet soos Maria Magdalena wees en nie soos 'n Judas nie.  Maria Magdalena het Jesus se voete gesoen en Hom gedien. Judas het Jesus se wang gesoen en Hom verraai.

Jesus het Maria Magdalena gebruik om vir Hom te werk en so kan Jesus ook een en elk  van ons gebruik.

Ek wil beslis vir die Here werk met alles in my hart.

God het Job se naam in die Hemel genoem toe Hy vir die duiwel gevra het: Het jy vir Job gesien? So ken God ook elke een van ons name en Hy wil ook vir ons 'n beter lewe gee. Jy is nie net 'n nommer in God se boekie nie.

By die kruis het die duiwel sy gulsigheid na mag gewys, maar Jesus het by die kruis Sy krag van Liefde vir ons bewys.

As ons na Maria Magdalena se lewe kyk kan ons dit baie keer die vergelyking sien in ons eie lewens.

Die eerste keer by Jesus se voete was sy verneder.

Die tweede keer by Jesus se voete het Hy haar geleer.

Die derde keer by Jesus se voete het sy oorgegee en dit was by die kruis.

Die vierde keer by Jesus se voete het sy gejuig want Hy het opgestaan en vir haar hoop gegee vir 'n beter toekoms.

Hoe wonderlik is dit nie dat as ons, ons lewens aan Jesus gee, Hy ons pyn en vernedering kan verander na 'n lied van geluk, liefde en hoop.

In elke een van ons skuil 'n Maria Magdalena. Al is dit pyn, vernedering of enige iets anders.

Jesus het met elke een van ons 'n plan. By Hom is geen sonde so groot dat Hy ons nie sal vergewe en ons 'n nuwe lewe gee as ons daarvoor vra nie.

Iets wat ek ook by Maria Magdalena geleer het, is nadat Jesus haar sondes vergewe het, het sy baie tyd saam met Hom deurgebring. Deur kosbare tyd met God deur te bring in my dag, het dit my krag gegee om my eie lewe reg te kry en te strewe om te wees hoe God wil hê ek moet wees.

Ek moet dit nog daagliks doen want ek is nog steeds in my baba skoene met alles wat God my wil leer.

Maria Magdalena het die Ware Jesus geken en geweet wat Hy vir ons in ons sondige lewens kan beteken.



Liewe Heer

My gebed vandag is dat ons U sal dien soos Maria Magdalena U gedien het. Dat U ook vir ons kan doen wat U vir haar gedoen het. U het nie verander nie.

Dankie Heer dat ons in U woord kan leer dat daar ook ander vroue was wat ook die pyn en hartseer gehad het wat ons vandag nog deurgaan, maar dat U vir ons die hoop gee om aan te gaan en te weet dat daar beslis vir ons 'n beter toekoms wag saam met U.

In U Heilige Naam vra ek dit.

Amen

1 comment:

  1. Vandag, (17 March 2013) ver weg van my familie en kinders, hier in Thailand, lei die Heilige Gees my na jou blog post na ek die video "Amazing Love" (http://www.youtube.com/watch?v=Dooif2-yAoI)
    gekyk het. As ons na haar verhaal kyk in die lig dat tot vandag nog vrouens in Iran en Afghanistan gestenig word vir die sonde "Adultery".
    ( http://www.youtube.com/watch?v=GYpuXpbf0jg) Jesus het haar gered. Hy was die een wat ingetree het.
    Haar voorbeeld van liefde vir Jesus is 'n voorbeeld vir ons almal. Ek stem so saam....
    Dankie vir jou gee en deel. Ek het dit so nodig op hierdie fase van my lewe.
    You are a blessing
    Carol K

    ReplyDelete

Blog Archive