Die vermetelheid om te maak net soos hy wil en dit in ons eie huis? Niks sal hierdie monster gekeer het nie. Nie eers my ouerhuis was meer vir my 'n veilige hawe nie. Waar sal ek kan wegkruip sonder om deur hierdie man vernietig te word.
En elke keer as hulle ry moes ek hom groet, gou het hy geld in my hand gedruk wat klein opgevou was ongesiens vir ander se oë. Hoeveel keer het ek nie gevoel ek gooi hom sommer met die geld nie, ek wil niks van hom gehad het nie, niks wat my aan hom herinner nie. Weer het ek gevoel kan niemand sien wat hier gebeur nie - is alle volwasse mense blind, omdat hulle bang is vir die klad wat op hulle name gaan wees oor iemand so iets aangevang het en dit die familie uitmekaar gaan laat spat?
En groet moet jy goet want anders het jy nie maniere nie en die ouers van daardie tyd was baie streng op maniere. En veral want ander mense van hulle kinders dink. Ek het so baie keer gevoel ek gee nie meer om wat ander mense van my dink of sê nie as ek net van hierdie monster kan wegkom. Nie net het hy my menswees verkrag nie, maar my vernietig bietjie vir bietjie.
Maar ek het nie die erns van die gebeure besef voor 16 jarige ouderdom toe ek eendag in die huishoudkunde klas gesit het nie. Ek het geweet dat dit wat met my gebeur nie lekker gevoel het nie en dat dit my bang maak. Dat alles wat hy doen teen hierdie klein stemmetjie in my kop in dryf en dat dit nie reg is om so bang te voel elke keer dat ek by die man kom nie. Nooit het ek die erns van die saak besef tot op daardie dag nie. Ouers van daardie tyd het nie maklik met hulle kinders oor hierdie dinge gepraat nie. En seks was nie eers in ons huis genoem nie. Daar is wel boeke aan jou gegee oor wat 'n meisie moet weet. Hierdie dinge het 'n naam gehad en meer en meer het dit skielik sin gemaak.
My Huishoudkunde juffrou het ons vertel van seks, aborsie, molestering en baie ander siektes wat jy as jong tienermeisie moet van weet. Groot was die skok hier binne in my toe ek uitvind dat dit wat met my gebeur nie net met my gebeur nie maar met baie ander jong ONSKULDIGE kinders en wat hierdie "ding" genoem word en wat hierdie persoon genoem word.
Nog steeds was daar nie die krag om dit vir my ouers of enige iemand te vertel nie. Die vertroue was net nie daar nie. Ek was bang almal sal my verstoot as dit moet uitkom. En so bly ek stil ...
Stil tot op 21 jarige ouderdom. Ek het met 'n man begin uitgaan wat ek op daardie stadium gevoel het beteken vir my alles oor dat hy vir my lief is net soos ek is. My ouers het hierdie verhouding glad nie goed gekeur nie en het my belet om met hom uit te gaan. Op daardie stadium het ek baie rebels geword en hoe kon hulle die persoon van my wegvat wat ek gevoel het beteken vir my so baie. Ek het van die huis af weggeloop om by hom te wees en my ouers het ingestem dat hy by my mag kuier. Net om die vrede te bewaar. Eendag het ek vir my ma vertel wat met my gebeur het en sy was onsteld. My ma het my ouma gebel en alles vir haar vertel. My ouma het dadelik gesê ek maak die stories op en dat dit nie waar is nie, dat hy dit nooit sal doen nie. So glo sy vandag nog dat ek hierdie leuen vertel om moeilikheid te maak.
Op daardie oomblik het ek so verstoot gevoel en het gevoel dat ek maar net my mond moes gehou het. Dit sou beter gewees het as die verwerping wat ek op daardie stadium moet hanteer. Vandag kry ek nog steeds baie teenkanting van familie baie naby aan my. Maar ek weet in my hart dat God die waarheid weet en eendag sal daardie mense voor Hom moet gaan staan.
Weereens is die groot saak net onder die mat ingevee en kom ons gaan net aan met ons lewe of dit nou my lewe verwoes of nie. As die groot mense besluit het die kinders moet stilbly en aangaan dan is dit so. En "'n leuen" moet mos stil gehou word. En so kuier die "liewe man in ons huis of daar niks fout is nie." En wat die seerste gemaak het was dat hulle van die man gepraat het of hy niks verkeerd gedoen het nie. Nog steeds op familie byeenkomste saam met hom sit en kuier en nie vir 'n ooblik my gevoelens in gedagte gehou nie. Dit het my net meer laat besef dat ons nie ons hulp van mense kan kry nie. Nie eers die mense wat jou daagliks van hierdie monsters moet beskerm nie.
Ek het gesorg dat ek nie naby die huis kom naweke as ek weet hulle gaan kom groet nadat hulle 'n naweek by my ouma gekuier het nie.
Wat altyd die gewoonte was. Ag en as sy vrou net nie uitvind wat haar wonderlike man regtig is nie. So lewe hy lekker en gaan aan met sy lewe. Ek moet met die wroeging in my hart daagliks loop omdat my menswees en onskuld van 'n kind weggeneem is. Ek nie die geleentheid gekry het om volwasse te word soos ander kinders met die respek vir seks en die mooi daarvan soos wat God dit gemaak het nie. En dat ek geen man regtig vertrou sonder om te dink wat hy van my soek en wat moet ek doen wat ek nie wil nie. As 'n persoon net kan besef wat se impak hulle op mense se lewens kan maak en hierdie mense se lewe vir altyd kan verander.
Ek het al begin glo dat dit my skuld is en dat ek daarna gesoek het, moes iet gedoen het om aanlyding daartoe te gee. Want duidelik is dit nie vir my ouers en familie 'n probleem dat hierdie man in ons huis kuier nadat hulle daarvan uitgevind het nie. Jare later sou ek net besef dat hierdie persoon is so siek en regtig nie reg in sy denke om sulke goed aan te vang nie.
Soos my lewe verloop het, het ek altyd met die verkeerde persone deurmekaar geraak en jy het naderhand die houding van ek kan nie beter kry nie en wees net dankbaar dat daar iemand is wat in hierdie vuil persoon belangstel. So het die verhoudings ook nie gehou nie. Die man waarmee ek uitgegaan het, waarna toe ek weggeloop het, het my verneuk met 'n ander meisie en ook vele ander het ek later uitgevind. Ek het gevoel dat ek net vir niemand goed genoeg is nie. Ek het so ook met mans deurmekaar geraak wat my verbaal mishandel het. Elke dag se mishandeling was vir my reg want, waarna sal ek gaan. Wees net dankbaar jy het iemand in jou lewe. Ek het gesmag na daardie opregte omgee, opregte liefde en vertroue. Ek wil nog net aanvaarbaar wees vir die lewe. Na soveel mislukte verhoudings en 'n senuwee ineenstorting wat my vir 'n week in die hospitaal laat beland het, het ek net nie meer lus gehad om te lewe nie.
Die sielkundige het vir my pille voorgeskryf wat sou help met die toestand wat ek in was en dinge makliker sou maak om te aanvaar. Dit was beslis nie die antwoord vir my nie. Ek het eendag besluit genoeg is genoeg en dat ek nie meer die pyn kan hanteer wat so binne my vreet nie. Pyn wat so diep gesny het dat dit elke stukkie van my lewe aangetas het.
Ek het die pille uitgehaal wat die sielkundige vir my voorgeskryf het en elke een gedrink wat ek kon inkry. Een van my vriende was in my woonstel en het my daar gekry in die kamer waar ek al reeds soos in 'n semi-koma begin gaan het. Hy het met my hospitaal toe gejaag. Daar het hulle my maag uitgepomp. Ek het net ver weg gehoor hoe almal om my besig was en geskree het om my wakker te kry. Dit het gevoel of ek op 'n ander planeet was. "Ek wou nie terugkom nie - los my net ek wil doodgaan". Dit was al wat deur my gedagtes gegaan het.
Die volgende oggend toe ek wakker skrik was alles maar net dieselfde en net erger. Ek was kwaad oor ek nie dood was nie en hoekom moet ek hierdie dinge derugaan. Ek het opgestaan en vir myself in die spieël gekyk, my oë het soos twee wasem wolke gelyk. 'n Grys kleur wat ek nooit sal vergeet nie. In my hart was ek klaar dood. Verstaan niemand die pyn waardeur ek gaan nie? Hierdie daad het dinge beslis nie verbeter nie en dit het die pyn binne in my net erger gemaak. Later in my lewe sou ek net besef dat God ander planne vir my lewe gehad het.
Tog het ek gesmag na iemand wat my sal aanvaar vir wat ek is. Nie voorwaardes stel wat ek nie gemaklik voel meer nie. Dat ek iemand spesiaal is. Ek het gesoek na my eie identiteit en het self nie geweet wat dit is nie.
No comments:
Post a Comment