Photos

Die Geheim van Geluk

Stel die Here op die proef dan sal julle sien hoe goed Hy is.

Iemand wat by Hom skuil, sal bly wees.

Psalm 34:9

Monday, September 13, 2010

Volkome Genesing?

Volkome? Wat beteken die woord volkome regtig - dit is geheel en al, totaal, dit is volmaak. Volmaak? Dit is wat ek graag van my lewe wil hê! 'n Volmaakte lewe met volkome genesing. Is dit moontlik?

Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.
Maleagi 4:2

As ons dit net kan toepas in ons lewe wat God se woord vir ons hier gee. As die seer rou is, is dit so moeilik om die sonskyn in ons lewe te kan laat skyn. Maar waar lê die probleem - waar begin genesing?

Begin genesing by jouself? Begin dit deur selfondersoek? Begin dit deur die probleem direk aan te spreek?

Wat maak jou vry? Vry van al die hartseer, woede en laat jou verstaan hoekom jou lewe so draai gemaak het en dat al hierdie dinge wat in jou lewe gebeur het ten goede gebeur het en dat dit van jou as mens 'n wenner kan maak?

Die kampioen hier uit te stap? Passievol oor jou lewe te wees.

Dit is baie moeilik, veral as jy versorg van buite lyk maar so gebroke binne is.

Hierdie hartseer gebeur met so baie van ons vroue vandag. Daagliks in die koerante lees ons dat drie uit elke vyf vroue, meisies, kinders gemolesteer word. Daar word daagliks vroue aangerand. Elke drie minute word daar 'n vrou verkrag. In die media hoor jy van 'n vrou wat deur haar man vermoor is. Meer gereeld hoor jy van vroue wat hulle babas weggooi aangesien hulle net nie kans sien om alleen aan te gaan nie. Hoeveel vroue pleeg selfmoord omdat dit voel dat dit die enigste uitweg is. Hoeveel vroue gaan net aan in hierdie bose kringloop omdat hulle glo dat daar niks beter vir hulle onsuksesvolle lewens daar buite is nie. Ek glo daar is baie vroue wat voel soos ek gevoel het dat dit maar die lewe se lot vir jou is.

Vroue in ons lewens vandag word so vertrap deur die verloop van gebeure dat dit my hart breek om te sien dat daar soveel gebroke vroue om ons is.

Vroue wat daagliks geslaan word deur 'n kêrel, 'n man. Kinders word deur hulle pa, oupa, oom mishandel word. Kinders wat nog nie eers gelewe het wat vermoor word. Vroue wat sommer net wil aangaan al is die pyn, leiding, vernederings en skokke elke dag daar. Vroue wat deur hulle mans verneuk word maar aangaan of dit maar deel van die lewe is.

Dan kom die vraag op - hoekom gee jy nie pad uit die omstandighede nie. Dit is makliker gesê as gedaan. Ek het self nog nie eers die krag gehad om hierdie man wat dit aan my gedoen het in sy gesig te gaan aanvat en aan hom te vertel wat  hy gedoen het is verkeerd nie.

Stukkende vroue - ek weet hoe dit voel om daardie vrees in jou saam te dra. Te glo jy kan nie daar uit nie want daar is niks beter vir jou daar buite nie. Jy is gebore om hierdie pyn en lyding deur te gaan. Ek het dit ook ervaar in my verhoudings met mans wat gevolg het. Hoeveel keer was ek deurmekaar met mans wat my verneuk het, my verbaal mishandel en verneder het en ek kon net nie sien dat ek nie nodig gehad het om hierdie dinge in my lewe deur te maak nie.

As ek vandag terug kyk daarna was dit of ek maar net altyd in hierdie situasie wou wees en dat dit my net meer en meer doodgemaak het binne. Die vrees dat niemand van jou gaan hou met jou geskeurde lewe nie het my die bangste gemaak. Dit het dit moeilik gemaak om myself los te maak uit hierdie vrot gebeure wat my lewe so vasgevang het.

Is al hierdie gebeure deel van ons ongeneeslike wêreld waar in ons bly? Dat ons ook daagliks deel van die statestieke word? Het ons 'n besluit? Het ons 'n besluit of ons deel van hierdie statestiek wil bly? Dit is beslis 'n vraag wat ons almal seker al gevra het. Is dit die lewe wat God vir sy kosbare kind wil hê? Wil God hê jy moet jouself net verder en verder vernietig?

Ek het hierdie vraag al so baie vir myself gevra. " Waar, waar moet ek begin en is dit die moeite werd om te begin? Het ek die krag om hierdie nuwe begin te maak en vol te hou daarmee?"

My antwoord was 'n definitiewe JA - breek die stilte van jare en praat daaroor.

Begin nou en begin by die begin. Dit is tyd om 'n stappie te vat in jou lewe, dag vir dag, uur vir uur deur al die seerkry.

Deur al die hartseer en woede wat sal kan lei tot genesing van liggaam en siel.

Dit is beslis die ergste om te doen. Om te gaan sit en 'n ondersoek te doen na alles wat in die lewe verkeerd geloop het en 'n opsomming te maak van alles wat jy vir eens en altyd uit jou lewe wil skuif. Dit is nie altyd maklik om te erken dat jy ook verkeerde besluite geneem het in jou lewe en jy geweet het dat dit nie is wat jy as mens wou hê vir jouself nie.

Dit is hierdie besluit wat my lewe 'n drastiese stap in die regte rigting geneem het. Wil jy deel van statestiek bly? Wil jy die monster verder voed?

...want julle maak die buitekant van die beker en skottel skoon, maar binne kant is dit vol roof en onmatigheid
Mattheus 23:25

.
Dit is wat ons doen met hierdie pyn. Ons maak die buitekant skoon maar binne is daar roof van geluk, liefde en uitermatige haat en verwoesting.

Hierdie versie in die bybel het my laat besef wat ek besig is om aan myself te doen.

Vrou moet nie jouself van jou menswees roof nie. Ek wou 'n gemeenskap met God begin en kon dit net doen deur myself te herprogrammeer. God maak nie foute nie en ons is nie veronderstel om minder van onsself te dink as wat God van ons dink nie. Wat dink God van jou? Is daar 'n belofte van vrede vir ons lewe?

Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.
Johannes 16:33

God gee om en dink baie van ons. Hy sê  ook in Sy woord dat Hy ons 'n kort tydjie minder as die engele gemaak het (Heb.2:7). Vrou jy is kosbaar vir God.

Hou jou fokus op God. Begin vandag want daar is dalk nie 'n môre om 'n nuwe begin te maak nie. God het ons elke een die geleentheid gegee om ons volle potensiaal in die lewe te bereik. Begin vandag. Ons het net een lewe - lewe dit ten volle. Dit is beslis nie te laat nie. By God is dit nooit te laat nie.

Daar is baie dinge wat keer dat daar volkome genesing kan kom.

Dinge wat gekeer het dat ek volkome genesing kan kry was die volgende:

  • Die hartseer en pyn wat ek beleef het in my verlede het groot skade aangerig vir my as vrou en my emosies - vertroue het hier in die slag gebly soos my vertroue in my medemens en in myself.
  • Kruip weg van die hartseer - met my glimlag het ek baie mense om die bos gelei want daaragter kon ek die hartseer en pyn wegsteek, wat ek baie goed reggekry het. Bitter min mense het regtig geweet waardeur ek gegaan het en wat se woede ek in my saamgedra het nie.
  • Ek het verwerp gevoel en dit het gemaak dat ek altyd negatief was oor alles en almal. Daar was geen toewyding van my kant af as dit by verhoudings kom nie.
  • Kritiek wou ek van geen persoon af vat nie - dit het vir my gevoel of hul my as mens aanval waar dit dalk in sekere gevalle nie die situasie was nie.
  • Deur my optrede en negatiewe houding het ek baie mense van my weggedryf en hul kwalik geneem vir dit.
  • Een van die moeilikste besluite in my lewe wat ek moes neem om volkome genesing te verkry was om te vergewe. Nie net die situasie waar ek my in bevind het nie, maar ook die persoon in die spieël en die persone wat hierdie dinge aan my gedoen het deur die verloop van my lewe.
  • Ek wou opreg liefde gee en kry. Dit was baie moeilik van my kant af om my alles te gee.
  • Mishandeling lei baie keer tot mishandeling en daar is 'n groot moontlikheid dat jy nie eers agterkom dat jy dit doen nie. Hierdie mishandeling is baie keer nie fisies nie maar verbaal.
  • Fout vind om seker te maak dat jy nie die enigste slegte persoon is nie, maar dat almal tog foute het en dalk slegter as joune. So kon ek my eie foute wegsteek en terug sit in my donker wegkruipplek.
  • My liggaam. Hoeveel keer het ek my oorgegee aan kos of my liggaam weerhou van kos. En nie omgegee hoe ek lyk nie. Wat maak dit tog saak as ek twee of drie kg optel? Of so maer is dat ek lyk soos 'n geraamte? Ek is al klaar so lelik van binne. Dit is daar waar ek die fout gemaak het. 'n Gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees. Hierdie woorde het vir my 'n leë betekenis gehad met geen wildskrag nie.
Hierdie genesing waarna ek opsoel was, kon net van God kom. Deur God as Geneesheer kon ek leer om volkome vrou te wees. God het my aanvaar net soos ek is met my swak menswees en foute en ek kan God aanbid net soos ek is.

Maar Jesus sê: " Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het. " Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê  Hy: " Dogter, jou geloof het jou gered gaan in vrede!"
Lukas 8:46-48

Hierdie vrou was desperaat om genees te word. Net so het ek ook daarna gesmag. Jesus het haar liefgehad met al die probleme en so het Hy my ook lief. God wil jou genees en jou laat groei in jou vrouwees. Ek het groei in my vrouwees gekort.

Ek moes die kinderskoene van my verlede uitskop en groot word in my menswees en hierdie volwassenheid kon ek net van God verkry.

Hierdie volwassenheid kon ek alleenlik verkry as ek God waarlik ken. Ek kan Hom neem op Sy beloftes wat Hy aan my gemaak het en dit toepas in my lewe as volkome vrou.


Friday, September 10, 2010

Lig in die donker pynlike tonnel?

Ses maande na my laaste mislukte verhouding daag die man op waarmee ek sewe maande later sou trou. Vir die eerste keer in my lewe voel ek dat dit die regte besluit is wat ek maak, vertel hom toe ook van my verlede en toets hom daardeur. As hy regtig vir my lief is soos hy sê hy is sal hy my met my "verlede" aanvaar vir wat ek is. Wat hy toe ook tot my verbasing gedoen het. Aan die begin was alles so wonderlik tot die ou verlede weer dinge begin omkrap het en alles net baie moeilik in my huwelik gemaak het. Baie keer het ek 'n muur om my gebou en kon ek nie die lig daardeur sien nie, omdat ek nog daardie gevoel van vuil gekry het en bang was my man sal my los omdat ek hierdie dinge in my verlde gehad het. Daardeur het ek hom verstoot en ons het 'n hele paar moeilike jare in ons huwelik gehad. Ek het geboorte gegee aan twee pragtige seuntjies.


Met altwee my swangerskappe het ek baie gesukkel en hierdie monster kwalik geneem vir wat hy aan my gedoen het en geglo dit is as gevolg van hom en wat hy aan my liggaam gedoen het dat ek met my swangerskappe gesukkel het.

Ook toe ons, ons baba tussen ons twee seuns verloor het. Wat het hierdie man aan my gedoen? Ek het oorbeskermed oor my seuns gevoel. As iemand aan hulle sou raak, het ek geweet dat ek nie sou terugstaan nie maar my hande af sou baklei vir hulle.

Ek moet sê dat ek baie lief vir my man en kinders is. My troudag was baie spesiaal, vir een keer in my lewe het ek gevoel en hoort iewers en dat daar iemand iets in my goed sien. My kinders se geboorte ook, maar nog kon ek nie die rus in my hart kry oor die verlede nie. Daar was iets wat gekort het om hierdie geraas stil te maak.

Baie aande sal ek nog gedroom het wat hy alles aan my doen. En ek kon nie die krag kry om hierdie man te konfronteer oor alles nie. Jare loop ek met hierdie duiwel binne in my wat nie wil uit nie. Wat my party dae so verbitterd gemaak het dat ek kwaad was vir almal om my.

Vir jare moet ek met hierdie seer in my hart loop en die monster baklei wat so vreet hier binne in my. Ek kon net nie wegkom van die pyn nie. Hoe moet jy hom vermy as hy maar net altyd daar is en oral waar jy probeer om weg te kom.

As jong meisie het ek vir baie jare die familie-byeenkomste vermy aangesien ek nie kans sien om hom te soen-groet en daardie reuk in my neus kan kry wat soos 'n stank aan hom vasklou nie. Ek was so alleen. DIe mense wat wel geweet het wat hy aan my gedoen het, het net gemaak of niks verkeerd is nie. Ek moes met dit saam leef. Daardie hande wat soos lemme deur my siel gesny het elke keer as dit ou wonde oopkrap. Dat hy vir jou glimlag en jou laat onthou dat hierdie geheim nog ons eie is en dat ek die perfekte persoon vir hierdie geheimhouding is. Lank het ek hierdie stryd alleen gestry.

Wat voed hierdie monster????

Wat keer jou om vir eens en altyd die monster uit jou lewe te skuif?

Dinge wat aan jou gesê word soos:

"Bly net stil moet dit tog nie vir iemand sê nie"

"Dit kan nie wees nie - daar is geen bewyse nie" Hoeveel bewyse moet 'n kind gee om te wys wat hierdie man alles aan jou gedoen het?

"Ag ons soek tog net nie moeilikheid in die familie nie" Is dit vir jou belangriker om familie gelukkiger te hou as om 'n kind te beskerm wat God aan jou toevertrou het?

"Jy soek net aandag - los dit net".

"Vergewe maar net en gaan aan".

"Ek bid vir jou".

"Die man sal dit nooit doen nie - hy is dan so goeie mens help almal en gee so om vir sy medemens".

"Het jy dalk nie daarna gesoek nie?"

"Is dit omdat jy so slegte mens is dat al hierdie goed met jou gebeur"?

Het jy al hierdie bewerings gehoor?

Al die hulp wat jy van persone vra wat jy gedink het sal in jou glo en jou met hulle lewens beskerm, verwyd jou oor pyne en wroegings wat jy het. Wees bly jy lewe. Dit is net molestering darem nie moord nie. Glo my dit is presies wat dit is, moord van jou menslikheid - hierdie man het my dood van binne gemaak en dit is so maklik om dit vir die samelewing aanvaarbaar te maak. Sies tog hierdie arme siek lewe waar ons, ons kinders moet in groot maak.

Ouers wat nie eers hulle eie kinders kan beskerm nie want hulle eie lewe beteken vir hulle te baie. En die seerste van alles is wanneer mense wat jy gedink het jy kan vertrou jou laat voel soos die misdadiger en hom as die slagoffer beskerm. Is dit hoe die samelewing van vandag die misdaad wat 'n pedofiel pleeg teenoor 'n kind toesmeer of 'n man wat sy vrou mishandel of vroue wat afgebreuk word tot in die afgrond in dat daar niks van hul mens wees oor bly nie, omdat hulle te bang is om die blik met wurms oop te maak. Mishandeling kan nie net fisies wees nie maar ook verbaal. Deur net geen respek vir 'n vrou se situasie te toon wanneer hul jou as ouer, vriendin of persoon vertrou met hul hartseer nie is so goed soos 'n verdere mishandeling.

Moet ons as samelewing ons oë toehou en onsself God se kinders noem deur maar liewer die vrede te bewaar en die misdadiger daarmee te laat weg kom. Is dit hoe ons vandag ons kinders beskerm en ons kinders wil leer van ons Hemelse Vader se liefde en God se regverdigheid? Dit leer jou beslis nie van liefde of omgee nie. Ook nie dat God jou onvoorwaardelik lief het net soos jy is nie. Oook nie dat God volkome vertrou kan word met jou hartseer en begrip het vir wat jy deurgaan nie. Hoe kan jy dan 'n verhouding met jou medemens en God bou?

Dit bring jou in opstand met die hele samelewing. Dit is wanneer dit moeilik is om respek te hê vir jou medemens. Ons as kinders is groot gemaak met jy moet respek hê vir ouer mense maar geen woorde dt hul wel hierdie respek moet verdien en dat alles wat ouer mense doen nie altyd reg is nie.

Hoekom? Hoekom? Hoekom is die lewe so onregverdig? Is daar dan geen liefde en regverdigheid in hierdie lewe nie? So dit is maar reg dat jy vir jare deur jou oom gemolesteer word en dat hy met sy lewe aangaan of niks verkeerd is nie.  Opmerkings wat na jou toe gemaak word dat jy later voel dit is beslis jou skuld en jy het daarna gesoek. Is daar genesing vir hierdie seer? Dit voel of jou lewe uitmekaar val.

Ek is hierdie jaar al 13 jaar met my wonderlike man getroud. Met 12 jaar se polisie agtergrond waar hy 'n gedeelte daarvan ook by die kinderbeskermings-eenheid gewerk het, het ek uiteindelik iemand wat volkome in my glo. En weet dat hierdie nie net 'n " ek soek aandag" geval is nie. Op een van hierdie byeenkomste wat ek so graag vermy het, het my man besluit dat dit nou net genoeg is en het hierdie oom van my eenkant gekonfronteer met die inligting wat ek aan hom gegee het. Dit het hom nie baie lank gevat om dit te herken nie. Maar nog steeds was daar nie volkome genesing nie. Hy het my net die res van die dag vermy en net weer aangegaan soos gewoonlik.

Wanneer sal dit tog beter word? Word jou monster later ook jou kinders se monster? Ek was so bang iets gaan met hulle gebeur en wat oorbeskermd oor hulle. Het hulle by geen vreemde en familie lede vertrou nie. As hulle wel by 'n familie lid was het gou gevra of daar iets was wat hulle ongemaklik laat voel het. Van kleintyd het ek hulle vertel van al hierdie seer wat met my gebeur het en hulle gewaarsku teen hom en ander soos hy. Want ek het geglo dat hierdie man beslis nog nie sy streke gelos het nie en dat my kinders dalk sy volgende slagoffers kan wees. Met sy sieklike arrogansie was enige iets moontlik. In die omgewing waar hy homself bevind het ek seker gemaak dat my kinders nie is nie en dat hulle alles weet wat belangrik is om hulle self teen hom te beskerm. Hierdie seerkry wil ek hulle beskerm teen want in vandag se tyd word geen kind onsien van hierdie monster se kloue nie.

Hierdie monster wat jy in jou saamdra - teen jou wil - kan baie verhoudings vernietig. Dit is so moeilik om te vertrou. Dit is so moeilik om gevoelens uit te druk. Hierdie monster het jou geleer om vir jare en jare alle gevoelens van woede, seer, vrees en haat te onderdruk moet nie eers praat van liefde nie. Hoe kan jy leer om volkome lief te hê sonder om die monster kans te gee om uit te klim en net weer deel van jou lewe te word?

Dit is na daardie liefde en vrede wat ek so gesmag het. Daardie opregte liefde, die vrede in my hart. Vrede in my medemens. Vrede oor dat God my met 'n doel op aarde gesit het. Vrede dat God vir my, my man gegee het met 'n doel en dat ek die regte vrou vir hom is. Vrede dat God vir my hierdie twee pragtige seusn gegee het en dat ek die regte en beste mamma vir hierdie twee geskenkies in my lewe is. Vrede in my lewe.

Nee, dit is makliker gesê as gedaan. Hierdie monster het elke keer as jy dink dat jy besig is om die stryd te wen net weer sy kloue in jou siel en menswees in geslaan.

Nie my liggaam kans gegee het om te ontwikkel soos dit moet nie en wanneer dit moet nie? Woede het net weer in my opgevlam toe ek swanger was - elke keer as manlief met my moes hospitaal toe jaag aangesien daar tekens was dat daar iets fout is en dat ons kosbare baba se lewe dalk op die spel kan wees. Vrese wat ontstaan het en weereens die negatiewe gevoel van, is jy die regte mamma vir hierdie kosbare geskenkie wat jy binne in hierdie vuil liggaam dra? Hierdie wroeging het ek elke keer alleen baklei want wattter vrou sal aan haar man herken dat sy bang is dat sy nie goed genoeg na hulle kindjie kan kyk of voel dat jou liggaam te vuil is nie?

Hoeveel keer het dit gevoel of ek net alles kan opgee en aanvaar dat daar nie hoop is vir hierdie hele probleem wat ek vir soveel jare in my lewe baklei nie.

Waar is die genesing? Hoe kan dit begin? Waar soek jy daarna? Wat maak 'n mens wat gesond lyk van buite dan so siek van binne? HELP!!!





Wednesday, September 8, 2010

Waar sal dit eindig?

Die vermetelheid om te maak net soos hy wil en dit in ons eie huis? Niks sal hierdie monster gekeer het nie. Nie eers my ouerhuis was meer vir my 'n veilige hawe nie. Waar sal ek kan wegkruip sonder om deur hierdie man vernietig te word.

En elke keer as hulle ry moes ek hom groet, gou het hy geld in my hand gedruk wat klein opgevou was ongesiens vir ander se oë. Hoeveel keer het ek nie gevoel ek gooi hom sommer met die geld nie, ek wil niks van hom gehad het nie, niks wat my aan hom herinner nie. Weer het ek gevoel kan niemand sien wat hier gebeur nie - is alle volwasse mense blind, omdat hulle bang is vir die klad wat op hulle name gaan wees oor iemand so iets aangevang het en dit die familie uitmekaar gaan laat spat?

En groet moet jy goet want anders het jy nie maniere nie en die ouers van daardie tyd was baie streng op maniere. En veral want ander mense van hulle kinders dink. Ek het so baie keer gevoel ek gee nie meer om wat ander mense van my dink of sê nie as ek net van hierdie monster kan wegkom. Nie net het hy my menswees verkrag nie, maar my vernietig bietjie vir bietjie.

Maar ek het nie die erns van die gebeure besef voor 16 jarige ouderdom toe ek eendag in die huishoudkunde  klas gesit het nie. Ek het geweet dat dit wat met my gebeur nie lekker gevoel het nie en dat dit my bang maak. Dat alles wat hy doen teen hierdie klein stemmetjie in my kop in dryf en dat dit nie reg is om so bang te voel elke keer dat ek by die man kom nie. Nooit het ek die erns van die saak besef tot op daardie dag nie. Ouers van daardie tyd het nie maklik met hulle kinders oor hierdie dinge gepraat nie. En seks was nie eers in ons huis genoem nie. Daar is wel boeke aan jou gegee oor wat 'n meisie moet weet. Hierdie dinge het 'n naam gehad en meer en meer het dit skielik sin gemaak.

My Huishoudkunde juffrou het ons vertel van seks, aborsie, molestering en baie ander siektes wat jy as jong tienermeisie moet van weet. Groot was die skok hier binne in my toe ek uitvind dat dit wat met my gebeur nie net met my gebeur nie maar met baie ander jong ONSKULDIGE kinders en wat hierdie "ding" genoem word en wat hierdie persoon genoem word.

Nog steeds was daar nie die krag om dit vir my ouers of enige iemand te vertel nie. Die vertroue was net nie daar nie. Ek was bang almal sal my verstoot as dit moet uitkom. En so bly ek stil ...

Stil tot op 21 jarige ouderdom. Ek het met 'n man begin uitgaan wat ek op daardie stadium gevoel het beteken vir my alles oor dat hy vir my lief is net soos ek is. My ouers het hierdie verhouding glad nie goed gekeur nie en het my belet om met hom uit te gaan. Op daardie stadium het ek baie rebels geword en hoe kon hulle die persoon van my wegvat wat ek gevoel het beteken vir my so baie. Ek het van die huis af weggeloop om by hom te wees en my ouers het ingestem dat hy by my mag kuier. Net om die vrede te bewaar. Eendag het ek vir my ma vertel wat met my gebeur het en sy was onsteld. My ma het my ouma gebel en alles vir haar vertel. My ouma het dadelik gesê  ek maak die stories op en dat dit nie waar is nie, dat hy dit nooit sal doen nie. So glo sy vandag nog dat ek hierdie leuen vertel om moeilikheid te maak.

Op daardie oomblik het ek so verstoot gevoel en het gevoel dat ek maar net my mond moes gehou het. Dit sou beter gewees het as die verwerping wat ek op daardie stadium moet hanteer. Vandag kry ek nog steeds baie teenkanting van familie baie naby aan my. Maar ek weet in my hart dat God die waarheid weet en eendag sal daardie mense voor Hom moet gaan staan.

Weereens is die groot saak net onder die mat ingevee en kom ons gaan net aan met ons lewe of dit nou my lewe verwoes of nie. As die groot mense besluit het die kinders moet stilbly en aangaan dan is dit so. En "'n leuen" moet mos stil gehou word. En so kuier die "liewe man in ons huis of daar niks fout is nie." En wat die seerste gemaak het was dat hulle van die man gepraat het of hy niks verkeerd gedoen het nie. Nog steeds op familie byeenkomste saam met hom sit en kuier en nie vir 'n ooblik my gevoelens in gedagte gehou nie. Dit het my net meer laat besef dat ons nie ons hulp van mense kan kry nie. Nie eers die mense wat jou daagliks van hierdie monsters moet beskerm nie.

Ek het gesorg dat ek nie naby die huis kom naweke as ek weet hulle gaan kom groet nadat hulle 'n naweek by my ouma gekuier het nie.

Wat altyd die gewoonte was. Ag en as sy vrou net nie uitvind wat haar wonderlike man regtig is nie. So lewe hy lekker en gaan aan met sy lewe. Ek moet met die wroeging in my hart daagliks loop omdat my menswees en onskuld van 'n kind weggeneem is. Ek nie die geleentheid gekry het om volwasse te word soos ander kinders met die respek vir seks en die mooi daarvan soos wat God dit gemaak het nie. En dat ek geen man regtig vertrou sonder om te dink wat hy van my soek en wat moet ek doen wat ek nie wil nie. As 'n persoon net kan besef wat se impak hulle op mense se lewens kan maak en hierdie mense se lewe vir altyd kan verander.

Ek het al begin glo dat dit my skuld is en dat ek daarna gesoek het, moes iet gedoen het om aanlyding daartoe te gee. Want duidelik is dit nie vir my ouers en familie 'n probleem dat hierdie man in ons huis kuier nadat hulle daarvan uitgevind het nie.  Jare later sou ek net besef dat hierdie persoon is so siek en regtig nie reg in sy denke om sulke goed aan te vang nie.

Soos my lewe verloop het, het ek altyd met die verkeerde persone deurmekaar geraak en jy het naderhand die houding van ek kan nie beter kry nie en wees net dankbaar dat daar iemand is wat in hierdie vuil persoon belangstel. So het die verhoudings ook nie gehou nie. Die man waarmee ek uitgegaan het, waarna toe ek weggeloop het, het my verneuk met 'n ander meisie en ook vele ander het ek later uitgevind. Ek het gevoel dat ek net vir niemand goed genoeg is nie. Ek het so ook met mans deurmekaar geraak wat my verbaal mishandel het. Elke dag se mishandeling was vir my reg want, waarna sal ek gaan. Wees net dankbaar jy het iemand in jou lewe. Ek het gesmag na daardie opregte omgee, opregte liefde en vertroue. Ek wil nog net aanvaarbaar wees vir die lewe. Na soveel mislukte verhoudings en 'n senuwee ineenstorting wat my vir 'n week in die hospitaal laat beland het, het ek net nie meer lus gehad om te lewe nie.

Die sielkundige het vir my pille voorgeskryf wat sou help met die toestand wat ek in was en dinge makliker sou maak om te aanvaar. Dit was beslis nie die antwoord vir my nie. Ek het eendag besluit genoeg is genoeg en dat ek nie meer die pyn kan hanteer wat so binne my vreet nie. Pyn wat so diep gesny het dat dit elke stukkie van my lewe aangetas het.

Ek het die pille uitgehaal wat die sielkundige vir my voorgeskryf het en elke een gedrink wat ek kon inkry. Een van my vriende was in my woonstel en het my daar gekry in die kamer waar ek al reeds soos in 'n semi-koma begin gaan het. Hy het met my hospitaal toe gejaag. Daar het hulle my maag uitgepomp. Ek het net ver weg gehoor hoe almal om my besig was en geskree het om my wakker te kry. Dit het gevoel of ek op 'n ander planeet was. "Ek wou nie terugkom nie - los my net ek wil doodgaan". Dit was al wat deur my gedagtes gegaan het.

Die volgende oggend toe ek wakker skrik was alles maar net dieselfde en net erger. Ek was kwaad oor ek nie dood was nie en hoekom moet ek hierdie dinge derugaan. Ek het opgestaan en vir myself in die spieël gekyk, my oë het soos twee wasem wolke gelyk. 'n Grys kleur wat ek nooit sal vergeet nie. In my hart was ek klaar dood. Verstaan niemand die pyn waardeur ek gaan nie? Hierdie daad het dinge beslis nie verbeter nie en dit het die pyn binne in my net erger gemaak. Later in my lewe sou ek net besef dat God ander planne vir my lewe gehad het.

Tog het ek gesmag na iemand wat my sal aanvaar vir wat ek is. Nie voorwaardes stel wat ek nie gemaklik voel meer nie. Dat ek iemand spesiaal is. Ek het gesoek na my eie identiteit en het self nie geweet wat dit is nie.

Tuesday, September 7, 2010

Die pyn (vervolg)

Sy pa was eenkeer in die hospitaal en hulle het in 'n volgende dorpie gebly. Ons as kinders was by hulle vir die vakansie en een aand moes ek weer saam met hom ry om by sy pa te gaan kuier in die hospitaal. Sy vrou, my boetie en hul seuntjie het by die huis gebly. Hy kon nie gou genoeg stop nie. Naby hulle huis was 'n brug en ons was skaars in die motor of hy stop by die brug. Ek het baie keer net gevoel ek wil weghardloop en nooit weer terug kom nie, hierdie aand was weer een van daardie aande. Hy het gestop my broekie afgetrek, my begin betas, sy vingers diep binne in my ingedruk en my so gekrap dat ek deur die dak wou klim. Ek wou skree van die pyn, maar elke emosie ingehou. Hy wou gehad het ek moet orale seks met hom hê. Ek het my tande so hard op mekaar gebyt dat my hele kop gepyn het. Ek kon daardie stank aan hom in my neus ruik. Nadat hy klaar was het hy my klere reggetrek. Hy het uitgeklim, agter die motor gaan staan en urineer. Ek het gou omgekyk waar hy was met die vrees wat gaan hy volgende doen. Dit was op daardie stadium dat ek gevoel het as ek uit hierdie voertuig kan wegkom moet ek dit nou doen. Maar die vrees vir die donker en die vreemde plek het my laat bly.

En wat as hy my in die hande kry waarmee gaan hy my dan straf. Hy het teruggeklim, die motor aangeskakel en na die hospitaal gery. Ek wou huil maar het geweet dat ek nou nie eers sal waag om te huil nie, want wat as hy weer stop? Hy het daar gesit en gemaak of daar niks fout is nie.

Het hierdie man nie 'n gewete nie?

Wat my ook gewalg het wat dat ek so baie in hierdie man se geselskap moes gewees het. Wat het ek so baie  by hulle gesoek? En hierdie dade het so gereeld gebeur. Hy het altyd met 'n kombers voor die TV gesit. Hy sou my dan mooi laat verstaan dat ek naby hom moet sit. Onder die kombers naby hom. Die man wil darem nie sukkel om elke keer by sy slagoffer uit te kom nie. Sy vrou sou in dieselfde vertrek as ons sit en hy sou sy hand by my broekie indruk en my betas. Die pyn was baie keer so erg dat ek voel hoe dit deur my liggaam sny en ek kon nie 'n geluid maak nie. Sy lang naels wat binne in my krap, my liggaam wat na die tyd soos 'n rou stuk lewer voel. Maar die vrees wat ek as kind vir hom gehad het sal net God verstaan.

Hierdie soort mense is sulke wrede mense wat jou so bang maak dat jy liewer sal stilbly sonder om enige iets te sê omdat jy so bang is wat hy dalk volgende gaan doen om dit nog erger te maak. 'n Vrees wat self by jou bly as jy reeds 'n volwasse vrou is. Jou liggaam het in spasma ingegaan net om te dink hierdie man doen dinge wat so seer is en die naar kol op die maag elke keer wat dit gebeur het. Ek wou opgooi net om aan sy hande en skoene te dink want dit is waar ek in moes vaskyk. En daardie reuk wat aan sy lyf geklou het. Hierdie vrees het my self in die nag gejaag as ek gaan slaap het.

Ek kon nie aan die slaap raak as ek nie op my maag gelê het met my een hand oor my borste en my ander hand oor my privaat dele nie. Dit was of ek alles wou toe hou wat hy dalk aan wou kom vat in die nag.

Self as ek in my eie bed geslaap het was dit al manier hoe ek aan die slaap kon raak. Dit was of daar 'n beskermde kombers om my was. Dan was daar die nagmerries wat ek gereeld gekry het. Hoe die man my rondjaag en ek nie kan skree nie dat daar net skuim by my mond uitkom en geen geluid nie.

Op daardie jong ouderdom druk hierdie persoon jou as klein kind om 'n dubbele lewe te ly. Een van gemolesteerde dogtertjie (wat net jyself van weet) en een van die gelukkige dogtertjie by die huis wat as die voorbeeldige kind probeer lewe. (Terwyl niemand net uitvind van die donker geheim nie). Jy het as kind nie veel beter geweet as om net te doen wat hierdie man jou beveel nie. Die vrees kan ek vandag as volwasse vrou nie glo dat een persoon soveel mag kan uitoefen en 'n kind so bang maak nie. Die leuens wat ek moes vertel en meer moet saam lewe was vreesaanjaend.

Ek het hierdie man met 'n passie gehaat. Elke oomblik wat hy my betas het, die blou kolle oral op my privaatdele na hy klaar was, die pyn wat ek vir dae moes saamdra. Hy het baie keer nie eers my liggaam kans gegee om te genees nie voor hy dit weer doen nie. Alles wat hy gedink het is baie lekker vir my en omdat ek net te dankbaar moet wees dat hy my hierdie guns doen en hierdie "liefde" aan my betoon.

SIEK, SIEK, SIEK.

Hierdie dade het vir jare aangegaan en al het ons al die jare daarna weg getrek en nie meer in dieselfde dorp as hulle gebly nie moes ek hom nog sien as hulle kom kuier. Ek het gevlug deur koffie in die kombuis te gaan maak maar dit het hom nie afgesit nie.

Ek sou gou as moontlik met my maag teen iets gaan staan dat hy nie aan my kon raak nie.  Hy sou ingestap het en sy hand ingedruk het tussen my en die kas of wasbak waarteen ek gestan het en my betas terwyl sy vrou en my ouers in die sitkamer sit en kuier.

Monday, September 6, 2010

My verhaal van pyn

Vroue soos ek en jy, die meisie langs jou, die vrou wat saam met jou werk, jou suster, jou ma, jou vriendin, die vrou in die straat - kosbare vroue wat met soveel hartseer sit.

Ons het soveel stukkende vroue daar buite en ek glo dat in ons lewens tog volkome kan kom.

Al voel dit dat daar geen meer hoop oor is nie, dit is wanneer die wonderwerke in ons lewe kan gebeur.

Hoekom ek? Hoekom nie iemand anders nie? Nie dat ek dit enige een van my vyande sal toewens nie. Daar was so baie ander dogtertjies om my - hoekom het hy my uitgekies om te misbruik? Het ek dan soos 'n seer vinger uitgestaan dat dit ek moet wees? Het ek soos die gewillige slagoffer gelyk? Op watter stadium het hy besluit sy is nou reg - hy kan nou met die molestering te begin - aangesien hy al die tyd van my geboorte in my lewe was?

Waar begin 'n mens se lewe?

As jy gebore word?
As jy begin skool gaan?
As jy jou eerste kêrel kry?
As jy trou?
As jy jou eerste baba in jou arms vashou?

Hoeveel keer voel dit of dit vandag die eerste dag van my lewe is? Ek het begin lewe nadat ek deur my genesings proses is op 36 jarige ouderdom.

Dit is my verhaal.

Ek is gebore as die dogter van 'n onderwyser-pa en 'n ma wat voldag gewerk het. Baie algemeen sal jy dink.
Nou wat het verkeerd geloop dat my lewe eers op 36 jaar begin het. BAIE!!

Daar was dae dat ek gevoel het dit kan maar net ophou.

Ons het in 'n klein dorpie groot gewrod, waar my pa vir die eerste paar jaar van my lewe die koshuis vader was van 'n laerskool koshuis. Hier het ek met baie kinders in aanraking gekom. Verskillende mense met verskillende agtergronde en lewens (baie dalk met dieselfde probleme waarmee ek gesit het.)

Dit het my nie baie gepla nie aangesien ek nog klein was. So jy kan vaagweg onthou wat om jou aangegaan het. Maar eendag het daar iets gebeur wat ek sal onthou tot die dag dat ek my kop sal neerlê. Vir my, klein dogtertjie is dit iets wat jy nie weet hoe om te hanteer nie.

'n Oom wat sy hande nie kon tuis hou nie en dit is hier waar die Hel begin het. Wat dit erger gemaak het is dat dit familie is en waarna toe hardloop jy, wie gaan luister, wie gaan help en wie gaan iets daaraan doen. En om dit nog erger te maak is die duister dae wat ek saam met hierdie man moes deurbring aangesien almal mos dink dat hy die wonderlikste persoon op twee bene is, almal wil help, die barmhartige samaritaan en niemand maar NIEMAND kan kwaad aan doen nie. Die dreigemente van sy kant af wat my bang maak met die woorde "dit is ons geheim en jy mag vir niemand daarvan vertel nie" net om na hom te kyk en om te weet ek moet maar net saamgaan waar hy ook al besluit die beste plek sal wees om sy dade met my te pleeg. Die besitlikheid oor my dat ek net sy besitting is en syne alleen om te gebruik wanneer en waar hy wil.

Daar was kere wat so uitgestaan het. Die wat my vandag nog walg. Een van hierdie kere was dat hy by ons (ek, sy seuntjie en my boetie) in die kom klim het om te doen wat hy wil doen. Ons het as kinders graag saam op 'n dubbel bed geslaap. Die kamer was langs hom en my tannie se kamer. My Tannie het vroeg in die oggende uitgegaan om te gaan werk. Ons kinders het by hom agter gebly. Hy het altyd laat geslaap maar was baie gou op as sy die huis verlaat het en het dan kaal by ons in die bed kom klim. Hy het met sy dinge begin. Sy hande kon nie gou genoeg my slaapbroekie van my lyf af kry nie. Ek het soos 'n standbeeld daar gelê. Het met alle mag my bene toe probeer druk dat hy nie aan my kon vat nie. Dit het hom nie afgesit nie en hy het net my bene van mekaar afgetrek. Die vrees wat daardie tyd deur my liggaam gegaan het sal ek onthou vir die res van my lewe. Ek was so bang hy doen iets aan my boetie ook. Ek het hom so ver moontlik van my boetie af prober hou. Gelukkig vir my boetie was sy belange by my en nie hom nie. Hy was nie eers bang dat my boetie of sy seuntjie sou wakker word en alles sou aanskou nie. Hierdie man was so arrogant dat hy vir niemand bang was nie. Dalk het die gedagte dat hulle te klein was om te verstaan wat hy aan my doen hom net gerus gestel om dit enige plek met my te doen. Sou ek ooit verstaan hoe hierdie man se brein werk?

Ek moes ook elke keer aan hom vat. Ek het dit met alles in my wese gehaat. Ek wou nie naby hom wees nie.
Ek was so bang en wou dit net oor kry. En elke keer was daar net weer vir my gesê dat ek moet onthou dat dit ons geheim is en dat ek niemand moet vertel daarvan nie.

Hulle het 'n inry-teater gehad en daar het baie van sy dade met my plaas gevind in die dag as niemand daar was nie. Hy het my greeld na die kafeteria van die inry-teater in die dag geneem en die deur agter ons gesluit. As hy met my na daardie gebou toe gestap het, het ek geweet, "Melanie hier gebeur dit weer", Ek was so bang dat ek gevoel het hoe my hande gebewe het elke keer as hy net nader gekom het al die pyn wat ek na die hele gebeurtenis moet wegsteek vir die wêreld en mense daar buite. Ek was blou, gekneus en het so gepyn elke keer as ek my bene teen mekaar gedruk het. Self net die aanraking van my onderklere was ondraaglik. Geen genade vir 'n klein dogtertjie liggaam wat nie gemaak is vir hierdie gebeure nie.


Thursday, September 2, 2010

Waarom?

Daardie gevoel van jy is vuil elke keer as hy met jou klaar is. Hoe moet ek self-respek hê as ek nie van my eie liggaam hou nie. En die vrees waarmee jy elke dag moet saam leef. Ek was ryp gedruk deur die samelewing - my kind wees was van my gesteel deur 'n pedofiel.



Ek het alles probeer om net 'n normale lewe te lei en nie met die klad op my naam saam te lewe nie. Soos dit ook dan is het ek in 'n klein dorpie groot geword en in 'n tyd waar hierdie gebeure taboe was om oor te praat of enigsins in 'n geselskap te noem. Dit is jou monster en jy moet maar alleen met hom saamleef en saamdra. Dit is iets wat net stil gehou moet word want dit kan dalk jou toekoms-planne in die wiele ry. Bly lewer stil en ek het!

Ek het as 'n Christen meisie groot geword wat gereeld kerk toe gegaan het. Bybel lees en bid elke dag was vir my genoeg om 'n Christen te wees. Daar was 'n verhouding tussen my en God - het ek gedink! Steeds was ek nie gelukkig nie al het ek tog elke dag my bybel gelees en nie verkeerde dinge gedoen nie. Daar was so baie wat ek in my lewe gemis het en vir jare het ek genesing gesoek vir hierdie verskriklike pyn wat ek moes saamdra. Daar was gevoelens wat ek nie geweet het om te hanteer nie want my liggaam en gees wou nie saamwerk nie.

Na 'n lang soektog het daar wel vir my genesing gekom en hier is my verhaal van hartseer en volkome genesing. Ek wil graag hierdie genesing met ander vroue deel wat deur dieselfde hartseer en pyn gegaan het of nog steeds gaan. En hulle die gemoedsrus gee dat daar wel genesing is vir die wonde wat baie keer so diep is dat dit dalk jare kan vat om te genees.




Wednesday, September 1, 2010

Hoekom? Hoekom?

Hoeveel keer het  jy al dalk daardie vraag gevra? Hoekom het dit met my gebeur?

Ek gaan vir jou 'n bietjie meer van my vertel en waar hierdie vraag ontstaan het in my lewe.

My naam is Melanie Herholdt. 'n Getroude vrou, 38 jaar oud met 'n wonderlike man en  twee pragtige seuns. 'n Lewe wat ek daagliks lewe. Nou wat maak my dan so anders?

Hier is my verhaal en die rede hoekom ek hierdie blad begin het.

Die inspirasie vir hierdie blad het gekom deur gebeure wat in my lewe van 38 jaar gebeur het en die vrae wat daarmee gepaard gaan. Vir baie jare het ek so baie vrae gehad maar kon net nie die antwoorde daarvoor kry nie.

In die tyd wat al hierdie vrae en hartseer net te veel geword het vir my om alleen te dra het ek dit ook met ander vroue om my begin deel en tot die gevolgtrekking gekom dat daar so baie vroue is wat met dieselfde hartseer en vrae in hulle lewe leef en dalk nog steeds met die geheim moet saam lewe, verberg in hulle hart en siel.


Van die dag dat ek kon onthou tot en met my tienerjare is ek deur my oom gemolesteer. Met hierdie verskriklike dinge wat in my lewe gebeur het, het dit vir my baie keer gevoel of alles net dood is binne in my. Daar was nie die normale verloop van die lewe vir my nie.

Liefde was nie vir my mooi nie, my liggaam was nie vir my spesiaal nie. Ek het van kleintyd af geleer om nie te vertrou nie, want as liefde en omgee so seermaak elke keer as hierdie man aan my vat wil ek nie liefgehê  word nie.

Blog Archive